Paarl se Taigh Schoor lyk venynig met die pienkbal op Dal Josafat in die Boland se Goldrush-T20-toernooi.


Met twee bonuspunt- oorwinnings elk het beide die Paarl-krieketklub (KK) en Paarl-Oos KK Saterdag op Dal Josafat vir die kwarteindrondes van die Boland-Superliga-Goldrush-T20-kompetisie gekwalifiseer. Prysgeld van altesaam R85 000 is op die spel, met die wenner wat met R45 000 sal wegstap.

Die kwarteindwedstryde word vandag (Donderdag) om 15:00 op Bolandpark gespeel, terwyl die halfeind- en eindstryde Saterdag beslis sal word. Die spanne uit die ander afdelings wat gekwalifiseer het, is Vredenburg-Saldanha (Krewe), Darling, Maties, Van der Stel, Robertson en Hermanus. Die Maties en die Krewe word as die gunstelinge beskou, met Robertson as ’n sterk buiteperd, aangesien hy hierdie seisoen onoorwonne deur die Bolandse Promosieliga gekom het.

Nat blaaie het veroorsaak dat die eerste wedstryde op Dal Josafat tot slegs 13 boulbeurte per span beperk moes word, waar Paarl (115/6) teen Young People’s (116/6) vasgeval het. Paarl se Akeem Minnaar (43) en Young People’s se Riedewaan Louw (54) het met die kolf beïndruk, terwyl Paarl se Taigh Schoor (3/30) die beste met die bal gevaar het.

In die ander openingswedstryd is Bergrivier vir 80 lopies uitgeboul, wat Paarl-Oos (83/5) sonder moeite in 9.5 beurte kon verbysteek.

Paarl het ’n opskudding veroorsaak toe hy Paarl-Oos hierna vir 121 uitgeboul het, met slegs Werner Erasmus (30) en Jevano Barron (46) wat hond haaraf kon maak teen die wenspan se Henrico Albertus (3/36) en Taigh Schoor (3/14). Vir Paarl-Oos het Nathan Jacobs (2/13) hard probeer met die bal, maar Paarl se kaptein, Adrian du Toit, (55) en Javier Visser (39 nie uit nie) het die langsteel ingelê om met sewe paaltjies te wen.

Intussen het Young People’s (159/6) harde bene gekou teen Bergrivier (149/5), met die verloorders se Rowan Robertson (49), Jonewyn Pietersen (29) en Ashwill de Vries (3/21) wat alles ingespan het vir ’n sege. Riedewaan Louw (59) en Clint Philander (37 n.u.n.) se kolfbeurte het egter Young People’s se tweede sege van die dag opgelewer.

In die laaste wedstryd van die dag het Young People’s (142/6) ’n oorwinning benodig om te verhoed dat sy seisoen eensklaps eindig.

Paarl se Darryl Hendricks (88, 9×6) het die skare op hul voete gehou en sy 123- lopie-aanvangsvennootskap met die Boishaai-matrikulant JJ van der Sandt (54, 4×6) het Bergrivier (146/6) raadop gehad. Paarl (152/2) het aanvanklik gesukkel teen Rowan Robertson (67), maar Taywin Adams (2/23) en Taigh Schoor (2/30) het goed beheer gehou.


. Kwarteindbepalings
is soos volg:

Donderdag 21 Maart

15:00 Darling t. Paarl Oos

18:30 Paarl t. Krewe

Vrydag 22 Maart

15:00 Maties t. Hermanus

18:30 Robertson t. Van der Stel

Die halfeindstryde en eindstryd vind Saterdag 23 Maart plaas.

Al die wedstryde word op Bolandpark gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.