Die Paarl-krieketklub het gesorg vir hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die Bolandse Premierliga-kompetisie toe hulle verlede Saterdag maklik met 31 lopies teen Wellington KK op die Pen Basson-veld gewen het.
Die tuisspan het verbaas met hul besluit om in die hitte eerste te gaan boul, en die resultaat hiervan was hul eerste paaltjie wat met slegs die sewende bal platgetrek is.
Darryl Hendricks (62, 6×4, 2×6 in 68 balle) was buitengewoon geduldig en sy tweede paaltjievennootskap met Lindley Hendricks (16) het 61 lopies opgelewer.
Hierna het Akeem Minnaar (61 nie uit nie, 3×4, 2×6) die skroewe styf gedraai, en in die proses sy kolfgemiddelde per beurt vir die seisoen na 206 opgeskuif.
Die linksdraaier Tiaan Cloete (10-3-29-3) was die beste bouler vir Wellington en het gehelp om die besoekers tot 188/9 in hul toegelate 50 boulbeurte te beperk.
Wellington se totaal van 157 was hoofsaaklik te danke aan ’n geduldige 43 lopie-vennootskap tussen Junaid Cassiem (40, 5×4) en Bjorn Hollenbach (61, 3×4) om die 3de paaltjie, gevolg deur ’n vennootskap van 62 lopies tussen Cloete (27) en Hollenbach. Laasgenoemde het egter tot Wellington se ondergang gelei deurdat hy 189 balle getrotseer het. Paarl se kaptein, Waylain September (10-1-30-2), het sy boulers goed afgewissel, met goeie beheer uitgeoefen deur Liam Muller (10-0-21-1), Herschelle Poggenpoel (10-0-30-1) en Anele Matye (7.4-0-25-2), wat aangewys is as die Speler van die Wedstryd.
Paarl II het met 24 lopies die onderspit gedelf teen Wellington II, wat ’n indrukwekkende teiken van 234 op die Parysveld gestel het. S. Abrahams (30), D. Carolus (67) en Z. Weber (39) het die beste bydraes vir die besoekers gelewer, terwyl Faghri Jacobs (9-1-36-5) te laat deur Paarl ingespan is om die lopietempo te beheer. Edrique Cook (7-0-32-2) het ook goed geboul. Jacobs (43) en Leswin du Plessis (39) het hard geveg voordat die tuisspan uitgeboul is vir 209, danksy goeie boulwerk van Wellington se J. Felix (2/41), Carolus (2/30), Abrahams (2/35) en J. Niemand (2/36). Paarl kom eerskomende Saterdag tuis te staan teen die onoorwonne span van Vredenburg-Saldanha. Paarl II reis na die Weskus.

