Paarl KK het Sondag op die Pen Basson-veld in Wellington sy derde bonuspunt van die seisoen opgestapel nadat hy Bergrivier KK in Krieket Boland se 50-boulbeurt-premierligakompetisie oortuigend met nege paaltjies geklop het.
Die tuisspan is ingestuur om te kolf, maar kon geen hond haaraf maak teen die vaart van Taigh Schoor (7-4-7-5) nie, wat die eerste vyf paaltjies in een skof geneem het. Paarl se linksdraaiers, Adrian du Toit (6-3-5-2) en Herschelle Poggenpoel (2.2-0-8-1), het die uitklophoue geplant om Bergrivier binne 26 boulbeurte vir ’n skamele 64 lopies almal uit te boul.
Hul kaptein, Garren Petersen (20, 2×4, 2×6) het voorlangs min ondersteuning ontvang en Craig Abrahams (25, 4×4) was die enigste ander kolwer van Bergrivier wat dubbelsyfers gekry het.
Paarl se aanvangskolwer, Jaywin Solomons (42 n.u.n., 7×4, 1×6), het min moeite ondervind om die teiken binne 11 boulbeurte te haal, met goeie bystand van sy kaptein, Akeem Minnaar (17).
Saterdag het Paarl II self indrukwekkend vertoon teen Bergrivier II op die Parysveld.
Die besoekende kolwers het goed vertoon en pragtellings is behaal deur Marquin Julies (91, 9×4, 5×6), Raid Bird (44, 4×4, 2×6) en Jonah Petersen (46, 4×4), om hul telling ná 50 boulbeurte op 249/9 te staan te bring.
Paarl se Grant Chordnum (10-2-32-3), die 14-jarige Reaaz Hendricks (10-0-41-2) en Henrico Albertus (8-0-47-2) het die skade met die bal aangerig.
Die aanvangskolwer, die Boland o. 19- speler JJ van der Sandt (115 n.u.n., 4×4, 2×6) het verantwoordelik gekolf ná ’n vroeëre terugslag, en saam met die ervare Waylain September (65, 5×4, 2×6) ’n tweedepaaltjievennootskap van 135 lopies opgestapel. Ná September se vertrek het die besoekers se hoop weer opgevlam, maar die ewe ervare Ultalyn Erntzen (40 n.u.n., 2×4, 2×6) het saam met Van der Sandt vasgeskop vir ’n onoorwonne vierdepaaltjievennootskap van 104 lopies, om die wedstryd vir die tuisspan met ses paaltjies te beklink.
Leandro Lovember (10-1-42-2) was Bergrivier se beste bouler.. Saterdag word die eerste helfte van die seisoen met die plaaslike derby afgesluit. Paarl speel op die Parysveld teen Paarl-Oos KK, terwyl Paarl II sy eweknieë op die New Orleans-velde pak.

