Net toe Paarliete heerlike internasionale rugby op hul voorstoep begin geniet het, is die wedstryde hiér gestaak. En dit weens die voortslepende reën wat die Boland die afgelope weke geteister het.
Ná nog swaar reënbuie verlede week het die Junior Springbokkies die span van Italië op Hoërskool Paarl Gimnasium se velde aangepak in die 2023 o. 20 Rugby Wêreldbeker, wat nie net ’n klipharde wedstryd was tussen die biltong-eters en die pasta-vreters nie, maar ’n behoorlike modderbad ook.
Die wedstryd was ook ’n bloedneus vir die Springbokkies met hul eerste nederlaag ooit teen Italië met 26-34.
Maar die groot verloorder van die dag was die pragtige gemanikuurde rugbyveld van Paarl Gim wat weens die nat omstandighede en klipharde rugby in ’n ware modderbad omskep is.
Dus is die rondte drie wedstryde wat vandeesweek by Paarl Gimnasium gespeel sou word na Danie Craven Stadion op Stellenbosch geskuif.
SA Rugby het vanmiddag aangekondig dat die besluit geneem is weens die toestand van die speeloppervlak in die Paarl.
Die volledige wedstrydskedule vir Dinsdag 4 Julie:
Danie Craven-stadion:
11:00: Italië teen Georgië
13:30: Ierland teen Fidji
16:00: Nieu-Seeland v Japan
Athlone-stadion:
14:00: Australië teen Engeland
16:30: Frankryk teen Wallis
19:00: Suid-Afrika teen Argentinië