NovaNews

Paarl-hospitaal-brand: Vermeende brandstigter glo psigiatriese pasiënt

Die buitepasiënt-afdeling van die Paarl-hospitaal het Dinsdag tydens ’n brand aansienlike skade opgedoen.
Die buitepasiënt-afdeling van die Paarl-hospitaal het Dinsdag tydens ’n brand aansienlike skade opgedoen. FOTO: Verskaf

PAARL – Die 35-jarige man wat in verband met Dinsdag se verwoestende brand by die Paarl-hospitaal in hegtenis geneem is, is glo ’n psigiatriese pasiënt wat behandeling by die gerief ontvang het.

Só het die Paarl-landdroshof vandag gehoor toe Morné Dampies op ’n aanklag van brandstigting verskyn het.

Die staatsaanklaer het aangevoer dat Dampies se familie die staat ingelig het oor sy geestestoestand en dat hy glo behandeling by die Paarl-hospitaal se psigiatriese eenheid ontvang.

Die saak is tot Donderdag 5 Februarie uitgestel vir dié inligting om bevestig te word, asook vir die verkryging van Dampies se borgtoginligting.

Die media se aansoek sal ook eers dan aangehoor word om oor die hofverrigtinge verslag te doen en om foto’s van Dampies in die beskuldigdebank te neem.

Brandbestryders van die Drakenstein-munisipaliteit Dinsdag op die toneel. Foto: Rasaad Adams
Brandbestryders van die Drakenstein-munisipaliteit Dinsdag op die toneel. FOTO: Rasaad Adams

Hoewel Dampies nie gevra is om te pleit nie, het hy in die beskuldigdebank ontken dat hy die brand begin het.

“Ek het mos niks aan die brand gesteek nie,” het hy gemompel toe die aanklag aan hom verduidelik is.

Dampies word daarvan beskuldig dat hy die brand begin het wat Dinsdag groot skade aan die Paarl-hospitaal se buitepasiënt-afdeling veroorsaak het.

Drie voertuie wat naby die gebou geparkeer was, is ook in die brand vernietig.

Hoewel die buitepasiënt-afdeling aansienlike skade opgedoen het en herstelwerk tyd sal neem, wil ek die publiek gerusstel dat Paarl-hospitaal oop en operasioneel bly. – Mireille Wenger

Ooggetuies het vandeesweek vertel dat die brand glo by ’n plastiese asblik buite die hospitaal uitgebreek het.

Die vlamme het volgens ooggetuies na ’n nabye voertuig versprei en die voertuig se vlamme het toe die hospitaal in ligte laaie laat ontaard.

Chaotiese tonele het daarna gevolg toe pasiënte en personeel die hospitaal moes ontruim.

Polisie, brandbestryders en plaaslike wetstoepassers het hospitaalpersoneel gehelp om pasiënte met die brandtrappe na veiligheid te ontruim.

Niemand is tydens die brand beseer nie en ’n assessering oor die omvang van die skade word steeds gedoen.

Dampies is laat Dinsdagmiddag vir ondervraging in hegtenis geneem nadat ooggetuies hom positief uitgeken het. Daar is glo ook kringtelevisiemateriaal wat Dampies met die misdaad verbind.

LEES OOK: Man arrested op arson charges following Paarl Hospital fire

Mireille Wenger, die Wes-Kaapse LUR vir Gesondheid, het Woensdag ’n besoek aan die hospitaal gebring.

Volgens Wenger is die hospitaal steeds operasioneel ondanks die skade wat deur die brand veroorsaak is.

“Hoewel die buitepasiënt-afdeling aansienlike skade opgedoen het en herstelwerk tyd sal neem, wil ek die publiek gerusstel dat Paarl-hospitaal oop en operasioneel bly. Enigiemand wat noodsorg benodig, sal behandel word.

“Om die herstelproses te bespoedig, is bykomende skoonmaakspanne ingespan om areas wat reeds beoordeel en as veilig verklaar is, deeglik skoon te maak en voor te berei,” het Wenger gister ná haar besoek gesê.

Sy sê namate hierdie assesserings voortduur, word meer afdelings van die hospitaal gefaseerd en op ’n noukeurig bestuurde wyse heropen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article