“Dit gaan nie altyd net oor die grootte van die vis is nie, maar eintlik oor hoe jy dit vang.”
Só sê die Paarlse hengelaar Jacques Malherbe, wat saam met sy spanmaat Cara Cowan as die kampioene by die Fips M-wêreld-pare-kushengelkampioenskap in Troia Grandola, Portugal, gekroon is.
Boonop is Cara op 25-jarige ouderdom die eerste vrou wat die titel wen.
Jacques (44), ’n oud-Boishaaier, hengel al vandat hy kan onthou. Hy sê familie-vakansies en wegbreek-naweke was altyd in Struisbaai waar sy pa hom geleer hengel het.
Nodeloos om te sê – uit die staanspoor was Jacques “hoek, lyn en sinker” deur die visvanggogga gebyt.
Tans is hy ’n lid van die Paarl-kushengelklub, ’n Boland- en Protea-hengelaar en ook die afrigter van die Protea-vrouespan.
Alles wat hy deur die jare in verskillende waters en plekke in die land asook oor die landsgrense in Suider-Afrika oor visvang geleer het, het hom nie op die wêreld-pare-hengelkampioenskap, wat in Portugal gehou is, voorberei nie.
Eerstens was daar die uitdaging met Covid-19 wat die kampioenskap herhaaldelik uitgestel het.
Uiteindelik, in November 2021, ná 18 maande se wag, kon hulle die vlug Lissabon toe op die nippertjie meemaak.
Jacques sê vir die eerste paar dae in Portugal was dit lang ure van intense voorbereiding. Hulle moes “leer hengel” met baie dun lyne en klein hoekies in die vreemde waters van die Mediterreense See.
Elke land stuur ses hengelaars – drie pare.
Elke paar word in ’n kamp van 30 meter breed geplaas en hulle mag slegs tussen dié toegelate penne hengel. Elke dag word op ’n ander strand gehengel.
Fips M (Federation Internationale de Pêche Sportive, ofMer) het baie streng reëls en veiligheidsprosedures rakende kushengel. Jy mag byvoorbeeld nie dieper as die onderkant van jou knie in die water gaan nie. Dit is dan ook nie water soos Suid-Afrika se wilde, rotsagtige kus waar baie groot kabeljoue, galjoen en dies meer gevang word nie.
“Ons was in ’n omgewing waarvan ons niks geweet het nie.”
Die span is wel bygestaan deur plaaslike gidse wat gehelp met voorbereiding van die gerei en aas-aanbiedings, wat baie belangrik is in alle vorme van hengel.
Dan was die vis wat geteiken is, ook ’n uitdaging. Die grootste het nie eens 1 kg geweeg nie en was visse soos makriel, harder, kolstert en tongvis.
Elke vis wat gevang word, tel verskillende punte per spesie en gewig.
“Ons het gehengel totdat die bloed letterlik geloop het.”
Die aas was sardyn en twee soorte lewendige wurms wat noukeurig op die hoek geryg word. Hierdie wurms bevat natuurlike suur en dié het hul vingers rou gevreet – ’n baie pynlike ervaring.
“Ons het nie tyd gehad om te rus nie; ons moes net aangaan,” sê Jacques.
Nadat die SA span op dag een voorgeloop het, het die span op dag twee en drie teruggesak, maar met tipiese Suid-Afrikaanse veggees en die leiding van hul gidse het hulle op die laaste dag sterk teruggekom.
Twee van die SA pare het die eerste plekke in hul onderskeie sones gewen, maar die hoogtepunt was Jacques en Cara se span, wat as die wêreld-pare-kushengelkampioene gekroon is.
“Baie trane van vreugde het in die hele span met hierdie aankondiging gevloei.”
Terug in die Paarl is Jacques, wat in die bankwese werk, steeds besig met hengelkompetisies en berei hy hom tans voor vir die internasionale toernooi tussen Suid-Afrika en Namibië in Desember in Jeffreysbaai.
Maar wanneer hy kan, hengel Jacques nog gereeld in Struisbaai, sy gunsteling-hengelwaters in die land, waar hy groot visse en haaie vang en hulle dan merk en vrylaat.
. A Paarl fisherman, Jacques Malherbe, and his Protea fishing partner, Cara Cowan, were recently crowned as the Surf Casting Pairs World Champions in Portugal.