– Volg van bladsy 1.
Paarl Post verstaan dat Le Roux se gesin Maandag haar lyk gaan uitken het.
Le Roux se broer, Franco, het Dinsdag aan Paarl Post gesê hul ouers, Annette en Daniel Bartolomeu (DB) le Roux, is hard deur die voorval getref.
“Vasti het tot onlangs toe nog by ons ouers gewoon. Met hulle wat ouer raak, was sy maar die een wat altyd vir hulle daar was. Hulle hanteer die nuus dus glad nie goed nie.
“Sy was iemand wat regtig altyd uit haar pad gegaan het om ander te help. Sy het sterk Christelike en morele waardes gehad en dit het gewys in die manier waarop sy haar werk gedoen en mense hanteer het. Vasti was ’n avontuurlustige mens wat lief was vir die natuur en diere. Ons het ’n blom verloor, maar ons weet sy is nou by Jesus.”
Elandi van Zyl, een van Le Roux se beste vriendinne, sê Le Roux se dood laat ’n groot leemte.
“Vasti was ’n vriendin soos geen ander nie. Ons was baie na aan mekaar.”
“Hoewel ek nie strooimeisies by my troue gehad het nie, het sy die rol van hoofstrooimeisie vervul. Sy het ’n baie mooi toespraak gelewer en weer eens die fondasie van ons vriendskap hervestig,” sê Van Zyl.
“Ek het Vasti deur die kerk ontmoet. Ons was albei in daardie stadium deel van die Every Nation-gemeente in die Paarl. Sy was soos ’n suster vir my. Sy het werklik die definisie van vriendskap na die volgende vlak gevat.”
Van Zyl sê Le Roux se dood kom etlike maande nadat sy (Van Zyl) haar broer in ’n motorongeluk verloor het.
Nog ’n vriendin, Juanri du Toit, wat sedert 2015 haarkapper- en skoonheidswerk saam met Le Roux gedoen het, het aan Paarl Post gesê baie van Le Roux se kliënte rou ook haar dood.
“Dit spreek boekdele van die soort mens wat sy was. Baie van die kinders wie se hare sy gereeld gesny het, se harte is seer oor Tannie Vasti wat nie meer gaan kom kuier nie. Haar passie vir haar werk was aansteeklik en jy kon dit sien in die gehalte van haar werk. Sy het elke oomblik van haar werk en tyd saam met haar kliënte geniet.”
Du Toit sê sy sal Le Roux onthou as iemand wat altyd sterk in haar geloof gestaan het.
“Sy wou alles volgens die boek (die Bybel) doen. Sy was nooit tevrede met tweede beste nie en sou eerder iets nie doen nie as om iets te doen waaroor sy nie tevrede of onrustig voel nie. Nie net verloor ek my beste maatjie nie, maar ek ook my sussie en my kollega.”
’n Gedenkdiens word vir Saterdag (28 Oktober) beplan. Le Roux word Maandag (30 Oktober) ter ruste gelê.