Geliefdes van die avontuurlustige Vasti le Roux (34), ’n haarkapper van die Paarl, sukkel om haar tragiese dood te verwerk nadat sy Saterdag (21 Oktober) op ’n staproete by die Dassieshoek-natuurreservaat naby Robertson deur ’n rivier meegesleur en haar lyk ure later deur reddingspanne opgespoor is.
Le Roux was deel van ’n groep van altesaam 15 stappers wat Saterdag die Arangieskop-staproete aangedurf het. Dié staproete neem glo twee dae om te voltooi.
Sy het na bewering gegly en in die rivier, wat weens die naweek se reënval sterk gevloei het, beland.
Megan Davids, nooddiens-woordvoerder in die Wes-Kaap, het die voorval by navraag aan Paarl Post bevestig.
“Nooddienste is omstreeks 14:00 na die gebied ontplooi nadat ons ’n oproep ontvang het oor ’n groep stappers wat by die Arangieskop-staproete in nood verkeer. Die groep het onveilige weerstoestande teëgekom en besluit om terug te keer.
“Een van die stappers het in die rivier beland en is meegesleur. ’n Soektog is dadelik van stapel gestuur, in samewerking met ons hommeltuig-eenheid asook vrywilligers van die Wildernis-Soek-en-Redding (WSAR). Die reddingspan het later met behulp van die hommeltuig op die vermiste stapper afgekom en sy is dood verklaar.”
Volgens Davids het reddingspanne by die res van die stappers gebly totdat die rivier se vlakke gedaal het, waarna hulle na veiligheid geneem is.
Geen ander beserings is aangemeld nie.
Sers. Wesley Twigg, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie het met ’n geregtelike doodsondersoek begin.– Vervolg op bladsy 3.