Die koerante Paarl Post en Worcester Standard Breederivier Gazette betree ‘n nuwe hoofstuk nadat Lise Beyers die tuig as redakteur neergelê en ‘n nuwe pos as nasionale digitale nuusredakteur van die Novus Media-groep aanvaar het.

Maryke Swart, wat oorspronklik uit die Paarl kom, sit nou in die redakteurstoel.

Sy was die redakteur van die Weslander in die Weskus en WeskusNuus in Atlantis en bly steeds aan as redakteur van Swartland Gazette in Malmesbury.

Lise was vir amper 20 jaar deel van die Paarl Post, een van Suid-Afrika se grootste gemeenskapskoerante, waar sy vir 13 jaar as redakteur gewerk het.

Sy het haar loopbaan in 1987 by Beeld in Johannesburg as persfotograaf begin, waarna sy as fotoredakteur van die Vrye Weekblad aangestel is.

Daarna het sy by Rapport as ‘n vryskutfotograaf aangesluit voordat sy na Pietermaritzburg verhuis en as korrespondent uit KwaZulu-Natal vir Beeld gewerk het.

In 2002 het sy na die Paarl – haar grootworddorp – verhuis, waar sy by die Paarl Post as joernalis aangesluit het en in 2012 tot redakteur bevorder is.

Lise het in ‘n joernalistieke huis grootgeword met haar pa, Fritz Joubert, wat redakteur van Sarie was, en haar ma, Maureen, die redakteur van die destydse tydskrif Wynboer.

Lise is dus van ‘n jong ouderdom aan die nuuslandskap blootgestel, wat die saadjie geplant het vir haar skuif van fotografie na joernalistiek.

Nóg ‘n faktor wat tot hierdie skuif bygedra het, is toe sy die destydse Apartheid-onluste eerstehands in Johannesburg aanskou het.

“Ek het een aand op pad terug kantoor toe van Ellispark af, waar ek foto’s van ‘n Curriebeker-wedstryd geneem het, kort nadat ek die stadion verlaat het, ‘n harde ontploffing gehoor, gevolg deur stilte. Dit het metaalstukke begin reën en ek het by ‘n nabygeleë bushalte gaan skuil. Die ontploffing het van die ander kant van die stadion gekom en ek het besef dit was ‘n bom en het daarheen gehardloop. Twee mans is dood toe hul motor deur ‘n motorbom vernietig is. Ek het die gebeure van naby ervaar en die volgende dag op eie inisiatief my eerste artikel daaroor geskryf.”

Dít was Lise se eerste skryfstuk en van daar af het haar loopbaan in joernalistiek gegroei.

In haar amper vier dekades in die medialandskap – met twee daarvan by die Paarl Post – het sy “heerlike stories en talentvolle mense” in die Drakenstein ontmoet, wat sy nog lank met haar sal saamdra.

Sy sal ook die tragedie van die Paarl Print-brand in 2009, waarin 13 mense oorlede is, onthou.

“Ek was die eerste joernalis op die toneel en het vier dae lank gewerk om die oorledenes se families op te spoor.”

Paarl Post bedank Lise vir 20 jaar se toewyding en herinneringe.


Maryke Swart is ‘n Paarliet in murg en been en het aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer voordat sy haar BA in mediastudies aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein voltooi het.

Maryke Swart.

Daarna het sy by ‘n plaaslike koerant in Bethlehem, die destydse Vrystaat (vandag Vrystaat Kroon) begin werk en ‘n paar maande later die geleent-heid gekry om vir die dagblad Volksblad as sy Oos-Vrystaatse verslaggewer te werk.

Maryke is in 2013 terug na haar tuisdorp waar sy as gemeenskapsjoernalis vir Paarl Post begin werk en toe na DistriksPos geskuif het voordat sy ‘n pos as nuusredakteur by die Swartland Gazette aanvaar het.

Sy het haar nagraadse diploma in sakebestuur in 2020 voltooi en is in 2022 as redakteur van Weslander en WeskusNuus, saam met die Swartland Gazette, aangestel.

“Om terug te wees in my tuisdorp, Paarl, en om in die redakteurstoel in te skuif van ‘n koerant waarmee ek as kind grootgeword het, is ‘n besonderse voorreg.

“Lise laat groot skoene agter om te vul, maar dit voel ook soos ‘n volle-sirkel-oomblik om terug te keer na die koerant waar ek werklik my passie vir gemeenskapsjoernalistiek ontdek het,” sê Maryke.

Sy sien ook daarna uit om die gemeenskap van Worcester beter te leer ken.

You need to be Logged In to leave a comment.