Die skoolgemeenskap van die Hoërskool Paarl Gimnasium het die nuus van die nuwe skoolhoof, Paul Viljoen, met ope arms verwelkom.
Viljoen sal van 1 Januarie af die pos voltyds beklee nadat Eddie Bateman in Februarie vanjaar afgetree het. Bateman was 10 jaar lank die skoolhoof by Gimnasium voor sy aftrede.
“Paarl Gimnasium is ’n baken van uitnemendheid en tradisie en vervul ’n kernrol in die ontwikkeling van seuns en meisies wat waardetoevoegende lands- en wêreldburgers wil word. Dit is dus ’n bitter groot voorreg vir my en my gesin om deel van hierdie besondere skool en gemeenskap te word. Ons dank die Here vir hierdie geleentheid,” sê Viljoen trots.
“Die dien van die leerders, personeel, ouers, oud-studente en die gemeenskap is my voorkeur en saam, glo ek, kan ons die skool tot selfs groter hoogtes voer. Daar is iets spesiaal in elke kind en ek sien uit daarna om uit te vind wat dit is,” voeg hy by.
Viljoen is oorspronklik van Kaapstad en het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Brackenfell voltooi. Daarna het hy sy studies aan die Universiteit Stellenbosch voortgesit en BComm-grade in ekonomie, rekeningkunde en menslike hulpbronbestuur verwerf. Viljoen het ook ’n nagraadse onderwysgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.
Viljoen het sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Labori in die Paarl in 2003 begin, waar hy vir 18 maande skoolgehou en rugby afgerig het. Hierna het hy na Nelspruit verhuis, waar hy by Penryn-kollege as adjunkhoof aangesluit het.
Dit is nie die eerste keer dat Viljoen aan die stuur van ’n skool sal wees nie. Hy was vir ’n tyd die uitvoerende hoof van Curro Privaatskool in Nelspruit en ook skoolhoof van die Northwood Hoër Seunskool in Durban.
Viljoen se vrou, Wendy, en twee kinders, Mieke en Lihan, is ook ewe opgewonde om by die Gim-familie aan te sluit. Wendy is self ook ’n Afrikaans-onderwyser, maar sy sluit egter nie in ’n professionele hoedanigheid by die skool aan nie.
Volgens Viljoen is sy visie vir Gim om verder by te dra tot die skool waar elke belanghebbende opgewonde is om deel van die skool te wees – “om die Gimmie-tradisies te eer en te versterk en om ’n skool te dien wat merkwaardig is in alles wat hy doen”.
“Dié skool is ’n leier op alle gebiede en het ’n ryke tradisie van uitnemendheid en leierskap. Dít, tesame met die Christelike waardes, maak dit die ideale ruimte vir my en my gesin. Hoërskool is sonder twyfel die beste tyd van ’n jongmens se lewe, en daarom is dit vir die seuns en meisies belangrik om die heel beste van elke geleentheid te maak. Gim bied so baie; dit is dus werklik ’n voorreg om deel van so ’n spesiale plek te wees.”
Op die vraag oor hoe hy beplan om met die ouers en ondersteuners van Gim hande te neem, sê Viljoen “alles gaan oor positiewe en deursigtige verhoudings”.
“Die ouers, oudleerders en ondersteuners is sleutel-belanghebbendes, dus baie tyd ingeruim word om seker te maak almal is opgewonde oor Gim en sy visie. Ek geniet dit om rondom mense te wees, en ek sien baie daarna uit om almal se storie te leer ken. Saam kan ons Gim tot self groter hoogtes neem. Ek glo ek kan die personeel en leerders bystaan om hul volle potensiaal te bereik. Die seuns en meisies moet gereed gemaak word om ná skool suksesvol te wees, en dit sal die groot fokus wees.”
Viljoen sê met sy aanstelling as nuwe skoolhoof sal ’n verwagting van vernuwing heers, maar hy sê dit sal met tyd kom en ook in die gebiede van die skool waar sy span glo dit is nodig.




