Internasionale mediaverteenwoordigers en -rolspelers in die wynbedryf is verlede week as deel van Cape Wine 2022 by Grande Roche in die Paarl getrakteer met net die beste wat die Drakenstein-wynlande kan bied. In die middel is die Grande Roche-sjef Kevin Groenewald en regs van hom is Annelize Stroebel, bemarkingsbestuurder van Paarl- en Wellington Wynroetes. Foto:


Paarl- en Wellington Wynroetes het die afgelope week met die beste van die vallei gespog en internasionale wynkopers en media by die gesogte Grande Roche-hotel in die Paarl onthaal.

Hierdie gaste het Suid-Afrika vandeesweek besoek as deel van Cape Wine 2022, wat van 5 tot 7 Oktober gehou is, en het die geleentheid gehad om topwyne van die Paarl- en Wellington-wynroete te proe.

Cape Wine, wat elke drie jaar deur Wines of South Africa aangebied word, is die voorste sake-vertoonvenster vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Volgens Annelize Stroebel, bemarkingsbestuurder van Paarl- en Wellington Wynroetes, bied Cape Wine ’n uitstekende geleentheid vir Paarl en Wellington om hul unieke wynaanbiedings uit te lig.

“Ons doelwit was om die indrukwekkende wynmaak-erfenis van die Paarl uit te lig as die tweede oudste wynroete in Suid-Afrika, sowel as die Wellington-wynroete, die jongste wyn-van-oorsprong-streek in Suid-Afrika, wat uitsonderlike wyne vanweë sy unieke terroir produseer.”

Doolhof, Diemersfontein, KWV, Nederburg Wines, Perdeberg, Rhebokskloof en Ridgeback was van die wynkelders wat deelgeneem het. Die wynkelders het ’n verskeidenheid van hul wyne op ’n proesessie aangebied, gevolg deur die sjef Kevin Groenewald se heerlike driegang-middagete. Gaste het die geleentheid gekry om spesiaal uitgesoekte wyne van die wynkelders, gepaard met heerlike Bolandse geregte, te proe.

You need to be Logged In to leave a comment.