Die Vrykyk-buurtwag in die Paarl het onlangs ’n toepassing (toep) bekend gestel wat boewe op heter daad sal kan betrap wanneer lede ’n paniekknoppie druk wat die patrollielede binne 15 tot 20 sekondes sal ontvang en hulle ontbied.
Dié toep, genaamd The Watch – Neighbourhoods, is enig in sy soort in Suid-Afrika en is oorspronklik vir ’n buurtwag in Gauteng op die been gebring.
Die Vrykyk-buurtwag het immers nie op hulle laat wag nie en met die toep-ontwikkelaar kontak gemaak, wat hulle in staat gestel het om die eerste Wes-Kaapse buurtwag te word wat dit gebruik.
Volgens Wynand van Zyl, voorsitter van die Vrykyk-buurtwag, is die toep verlede jaar (2022) geskryf en is dit op die Vrykyk-buurtwag se onlangse jaarvergadering bekend gestel.
Die toep is amptelik op 16 Oktober oopgestel, waar opbetaalde lede van die Vrykyk-buurtwag dit op enige Android- of Apple-foon kan aflaai.
Hy het bygevoeg die buurtwag moet ’n jaarlikse fooi aan die ontwikkelaar sowel as aan die Android- en Applewinkels, oftewel playstores vir hul dienste betaal.
Van Zyl het verduidelik die toep het twee funksies, naamlik sy nommereen-funksie, wat as ’n paniekknoppie dien, en tweedens om misdaadtendense in die Vrykyk-woonbuurt aan te meld.
Volgens hom is dit nie altyd moontlik vir mense om noodnommers te bel nie omdat hulle dalk nie tyd het nie of nie by hul volle positiewe is nie.
Die toep is daarom meer gebruikersvriendelik omdat die noodknoppie makliker bekombaar is as ’n foonnommer, en die buurtwag die noodkreet binne sekondes sal ontvang en hulp kan ontbied.
Van Zyl het bygevoeg die toepassing het ’n ingeboude GPS en wanneer die paniekknoppie gedruk word, kan daar gesien word waar die noodkreet vandaan kom.
Sy tweede funksie – om misdaadtendense aan te meld – bevat die opsie om misdaad in die Vrykyk-woonbuurt gedurende of nadat dit plaasgevind het, aan te meld, wat die geleentheid vir die buurtwag sal skep om tendense soos waar die misdaad meestal plaasvind, watter soort en die tyd daarvan, vas te stel en sodoende hul aandag op daardie statistieke toe te spits.
Volgens Van Zyl het die Vrykyk-buurtwag sedert die bekendstelling van die toepassing reeds ’n toename in lede ervaar en was die eerste toetslopie van dié toepassing baie suksesvol.
Hy het verduidelik dat lede nog nie van die noodknoppie gebruik gemaak het nie, maar weet wel dat dit tot hul beskikking is.
Tans bedien die Vrykyk-buurtwag 170 huise en dit beskik oor vyf bestuurslede en altesaam 12 patrollielede. Die buurtwag is in 2016 gestig en het van 1 Januarie 2023 tot nou slegs agt misdaadvoorvalle gehad.
Indien Vrykyk-inwoners wil deel vorm van die buurtwag en dié se toep, kan die buurtwag by vrykyk@yahoo.com of 082 586 5070 gekontak word.