Nog ’n plaas in die Paarl word vir behuising ontwikkel. Die jongste ontwikkeling geskied op die plaas Picardie, reg langs die historiese Laborie-wynlandgoed. Dié projek is deel van talle behuisingsontwikkelings wat tans in die vallei geskied, veral in Paarl-Suid. Die burgemeester, Stephen Korabie, het onlangs in sy begrotingstoespraak gesê altesaam 1 420 goedkeurings vir bouprojekte is vir die tydperk van 1 Julie 2023 tot op datum toegestaan. Vir die 2023-’24-boekjaar is grondgebruik-ontwikkelingsregte aan altesaam 1 291 nuwe residensiële bouprojekte, 20 702 m² nuwe kommersiële ontwikkelings en 1 040 m² nuwe nywerheidsontwikkelings toegeken. Buiten hierdie goedkeurings word aansoeke om grondgebruikregte vir nog altesaam 1 679 nuwe residensiële bouprojekte, 24 659 m² nuwe kommersiële ontwikkelings en 44 679 m² nuwe nywerheidsontwikkelings tans verwerk. Foto: Lise Beyers