Een van Suid-Afrika se langlopende sportgeleenthede en laaste mededingende fietsrybyeenkoms op die 2025-kalender vind hierdie week plaas in die Paarl.
Die ikoniese Paarl Boxing Day baanfietsuitdaging keer op Donderdag (26 Desember) terug na die Faurestraat-stadion vir sy 127ste aanbieding, waar baanfietsryers van regoor die land weer om eer, rekords en prestasie sal meeding. Die renne skop amptelik om 12:00 af.
Volgens Denis Human, organiseerder van die byeenkoms, bly die Boxing Day-ren ‘n hoogtepunt op die plaaslike en nasionale sportkalender. “Die Paarl Boxing Day- baanfietsuitdaging is nie net ‘n wedren nie; dit is ‘n stuk lewende geskiedenis. Om ná 127 jaar steeds relevant en sterk te staan, sê baie oor die sport, die gemeenskap en die atlete wat jaar na jaar hier kom meeding.”
Fietsryers sien uit na 25 Myl-item
Die byeenkoms dien as ‘n belangrike toets vir baanfietsryers van regoor die land. Sentraal tot die dag se program is die legendariese 25 Myl-item, wat al dekades lank as die hoogtepunt toets van uithouvermoë op die baan beskou word.
“Die 25 Myl bly die maatstaf,” verduidelik Human. “Ons het oor die jare gesien hoe tye dramaties verbeter namate toerusting, opleiding en atleetkondisionering ontwikkel het. Waar ryers vroeër trots was op tye van meer as ‘n uur, praat ons vandag van gemiddelde snelhede bo 45 km/h, met die beste pogings wat selfs 47 km/h nader.”
Soos elke jaar hang die groot vraag weer in die lug: kan die rekord verbeter word? Volgens Human is juis hierdie strewe na vinniger tye deel van wat die byeenkoms so besonders maak. “Daar is ’n diep respek vir tradisie, maar ook ‘n konstante honger om grense te verskuif. Dit is wat die Paarl Boxing Day- baanfietsuitdaging definieer,” het hy gesê.
Nuwe rekords word gejaag
Benewens die elite-kompetisie, word die byeenkoms ook gekenmerk deur sy inklusiwiteit. Fietsryers van alle ouderdomme, vaardigheidsvlakke en agtergronde vanaf ervare kampioene tot eerstekeer-baanrenners sal die baan aandurf.
“Wat my elke jaar opnuut tref, is hoe hierdie byeenkoms mense bymekaarbring,” sê Human. “Jy sien hier provinsiale ryers, klubfietsryers, jong talent en nuwelinge almal op dieselfde baan. Dit is ’n viering van die sport in sy suiwerste vorm.”
Vanjaar se byeenkoms beloof om besonder kompeterend te wees met voorste uithouvermoë-spesialiste en vinnige sprinters wat na verwagting vir vuurwarm wedrenne sal sorg. Jong fietsryers kry terselfdetyd die kans om hulself op ’n gesogte verhoog te bewys en waardevolle ervaring op te doen.
“Soos ons die fietsjaar afsluit, staan hierdie byeenkoms as ’n herinnering aan waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is,” sluit Human af. “Hier word rekords gejaag, loopbane begin en tradisies met trots voortgesit.”
Drakenstein-munisipaliteit is vanjaar weereens die trotse gasheer van die gesogde fietsrybyeenkoms.
“Die Boxing Day-tradisie word reeds vir meer as 100 jaar gevier, en Drakenstein Munisipaliteit is trots om deel daarvan te wees. Die Munisipaliteit ondersteun die geleentheid deur ’n geldelike bydrae, asook deur die lewering van in-natura dienste,” sê Bradley Brown, Drakenstein se waarnemende stadsbestuurder.
“Die Boxing Day Track Challenge is ’n vaste gunsteling op die jaarlikse kalender vir fietsry-entoesiaste, plaaslik sowel as nasionaal en internasionaal. Die geleentheid bied ’n volle dag van opwindende baanresies, gepaard met feestyd-atmosfeer en energie. Die publiek word hartlik uitgenooi om by te woon, deel te neem en die vinnige rondtes, groot skares en unieke atmosfeer te ervaar.”
Die byeenkoms begin om 12:00, maar die hekke open amptelik om 10:00 vir toeskouers. Volgens Human begin die laaste wedren, die 25-myler, om 17:00. Bekendes wat gaan deelneem sluit in Joshua Dike, Gustav Roller, Daniyal Matthews, Gustav Basson, Carl Bonthuys, Zane Salzwedel, Rhys Burell, Ethan Kulsen, Joshua Wentzel, Morgan Jones, Martin van Wyk en Alex Heward.
Van die vroue deelnemers sluit in Catline Rose Lamers, Anya du Plessis en Mianette Theron.
Toegang vir toeskouers wissel tussen R25 en R50 afhangend van waar hulle wil sit.





