Een mens is dood en talle beseer nadat ’n taxi Sondag gerol het op die R45 in Simondium.

Die ongeluk het naby die Vrede en Lust-wynlandgoed gebeur net ná 21:00 toe die taxi-bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Volgens sers. Charlene Pietersen, woordvoerder van Groot Drakenstein-polisie, was daar 16 insittendes in die taxi ten tyde van die ongeluk.

“Een persoon is dood en die ander mense in die taxi is beseer. ’n Saak van strafbare manslag is geopen en word ondersoek. Wat gebeur het, volgens die getuienis, is dat die taxibestuurder beheer oor die voertuig verloor het,” sê Pietersen.

EMS ambulansdienste het om 21:37 ’n oproep ontvang en is na die toneel ontbied. Verskeie ambulanse en reddingsvoertuie het ook na die ongelukstoneel gehaas.

Byron La Hoe, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse provinsiale gesondheidsdepartement, het bevestig dat EMS die beseerdes op die toneel behandel het.

“Altesaam 16 pasiënte was in die ongeluk betrokke, en een manlike insittende is ongelukkig dood. Verskeie pasiënte is vir behandeling na die Paarl- en Stellenbosch-hospitale vervoer, insluitend ’n ernstig beseerde kind, saam met 14 mense wat almal vir geringe beserings behandel is,” sê La Hoe.

In ’n afsonderlike voorval is ’n jongman se lewe Maandagaand kortgeknip toe hy ook in ’n ongeluk betrokke was.

Volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van Paarl-polisie, het die 28-jarige man op die Lustigan-pad glo beheer oor die voertuig verloor. Polisiebeamptes van Paarl-polisie was omstreeks 23:30 op die toneel.

“Die voertuig is op ’n plaas gevind waar dit uitgebrand het en die 28-jarige insittende van die Paarl is op die toneel dood verklaar. ’n Saak van strafbare manslag is vir ondersoek geopen,” voeg Du Plessis by.

Du Plessis doen verder ’n beroep op enigiemand met inligting oor ’n motorfietsongeluk wat Vrydag (2 Desember) op die Agter-Paarlpad gebeur het om na vore te kom. ’n 31-jarige man is in die voorval dood en ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

“ ’n Motorfietsryer is omstreeks 19:30 deur ’n verbygaande motoris dood op die R44 gevind. Die oorledene, ’n 31-jarige man van Parow, het glo beheer oor die Harley Davidson waarmee hy gereis het, verloor. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Paarl-polisie by 082 469 1431 te skakel.”

You need to be Logged In to leave a comment.