’n Tragiese verhaal het Saterdag (16 Desember) in Gouda afgespeel toe Cupido van der Horst (65), pa van Samantha Booysen (18), nes sy dogter ook deur ’n Kaapse kobra gepik is en aan sy beserings beswyk het.
Volgens Sandra Maritz, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is Van der Horst ’n dag later, op 17 Desember, in die Lapa Munnik-hospitaal in Porterville oorlede nadat hy die dag vantevore in sy slaap gebyt is.
Die voorval het ook tydens ’n middagslapie op ’n warm dag plaasgevind, soortgelyk aan die voorval van Booysen, en Van der Horst is ook in dieselfde bed as sy dogter gepik.
Tien maande gelede, op 12 Februarie vanjaar, is Van der Horst se dogter ook deur ’n “geel slang” gepik en het sy in die ambulans op pad hospitaal toe aan haar besering beswyk.
’n Familielid met wie Paarl Post gesels het, het bevestig Van der Horst in sy slaap gepik is, maar kon nie verdere inligting oor die aangeleentheid gee nie.
Die familielid het ook genoem dat die begrafnis die komende naweek sal plaasvind, maar nie ’n spesifieke datum en tyd gegee nie.
Volgens Maritz word die nadoodse ondersoek nog afgehandel en kan die gesondheidsdepartement nie bespiegel oor die oorsaak van dood nie. Netwerk24hetberig daar word vermoed dat Van der Horst aan ’n hartaanval oorlede is, en dat hy wel teengif ontvang het.
Volgens die berig het die voorval omstreeks 17:00 plaasgevind toe Van der Horst “uit die huis gehardloop het, en geroep het iemand moet ’n ambulans bel, want ’n geel slang het hom gepik”.
’n Ooggetuie se seun en dié se maatjie het ’n band styf om die boonste gedeelte van Van der Horst se arm gedraai en gaan soek na die slang in die huis terwyl die ooggetuie die polisie gebel het omdat “hulle altyd vinniger die ambulans kan ontbied”.
Daarna het iemand ook ’n nabye ambulans ontbied wat Van der Horst toe suurstof gegee en hospitaal toe geneem het.
Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Controls het verduidelik dat hy die afgelope Sondag ontbied is na die huis waar die tragedie plaasgevind het om die slang te probeer vang, maar hy kon die slang nie opspoor nie.
“Die kinders het baie goed gedink. Hulle het dadelik iets styf om die oom se arm gedraai waar die slang hom gepik het sodat die gif moeiliker kan versprei,” het Niemand gesê.
In ’n ander voorval het Niemand ’n huis in Charleston Hill in die Paarl besoek en ’n spoegkobra, wat gewoonlik nie in die Boland voorkom nie maar eerder in die Cederberg, gevang.
Die Paarliete was op pad van die Cederberge en het ná hul aankoms by die huis hul motor se alarm hoor afgaan, waarna iemand ’n “swart slang” uit die motor sien seil het.
Volgens Niemand kon hy die slang dadelik identifiseer as ’n spoegkobra en het hy dit versigtig. met die stert eerste. in ’n houer geplaas. Spoegkobra’s kan tot vier meter ver spoeg, en indien jou oë nie dadelik met ’n wateroplossing uitgespoel word nie, kan dit permanente skade laat.


