Die lewe van ’n 33-jarige pa, Ronwhin Geduld, is hom wreed ontneem toe hy die afgelope naweek in Jan van Riebeeck-rylaan doodgesteek is. Sy vriend, Jody Davids (42), is ernstig gewond in dieselfde voorval en word in die Paarl-hospitaal behandel.
Ingrid Davids, Davids se ma, sê sy weet nie wat presies gebeur het nie, behalwe dat haar seun en Geduld nog Saterdag (2 September) saam met vriende by ’n klub in Jan van Riebeeck-rylaan gekuier het.
“Die vriende wat saam met hulle was, kon ook nie presies sê wat gebeur het nie, want dit was glo ’n hele mengelmoes- besigheid.”
Ingrid bars in trane uit toe sy vertel hoe haar seun met alle mag om sy lewe geveg het.
“Ek het nie my seun gesien toe hy in daai toestand was nie, maar my broer se kinders het hom gesien. Hulle het hom gaan haal, want hy kon nog bel om te sê my broer moet hom kom kry. Hy het gehardloop van waar die messtekery aanvanklik gebeur het en in Jan van Riebeeck-rylaan naby 1Up op die grond neergesak. Die toestand waarin hulle hom gekry het en hoe hy sy gesig gelyk het, maak hulle nou nog getraumatiseer. Ek was in Atlantis by my dogter toe dit gebeur het. My broer het my die nag gebel en ons het onmiddellik deurgekom.”
’n Noodoperasie moes met Davids se aankoms by die Paarl-hospitaal op hom uitgevoer word.
“Ek weet nie hoekom dit so seer maak nie. Sulke goed gebeur, maar dis seker omdat sy vriend dood is en omdat ons weet as die Here nie met hom (Jody) was nie, sou dit anders gewees het. My kind kon ook ’n lyk gewees het. Hy het ’n skin aangehad en ek sê die skin moes die derms nog ook gehelp het om bymekaar te bly. Hy self het gedink hy gaan dood, want hy het vir sy neef gevra of hy dit gaan oorleef.”
Kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het die voorval bevestig. Hy sê die inligting wat aan die polisie verskaf is, is dat ’n bakleiery in die klub uitgebreek het. Die slagoffers en die span wat baklei het, is toe na bewering by die klub uitgegooi, waar die bakleiery buite verder gegaan het.
“Die oorledene se broer het gesien hoe steek drie verdagtes hom, maar op daardie oomblik het hy nie geweet dit is sy broer nie. Hy het agterna gesien dit is sy broer wat daar lê. Toe die ambulansdienste op die toneel kom, het hulle hom (Geduld) dood verklaar.”
Sauls sê een van die verdagtes het homself reeds aan die polisie oorgegee en hy word aangehou. Die saak is intussen na die Paarl-polisie oorgeplaas, wat dit verder sal ondersoek. Teen druktyd is geen ander verdagtes nog in hegtenis geneem nie.. The life of a 33-year-old father, Ronwhin Geduld, was cruelly taken from him when he was stabbed to death in Jan van Riebeeck Drive this past weekend. His friend, Jody Davids (42), was seriously wounded in the same incident and is currently being treated in Paarl Hospital.