Geagte redakteur,

Ek skryf hierdie brief met groot kommer oor die gevaarlike bestuursgewoontes van minibustaxi’s in die Paarl. Daagliks word ons gemeenskap se lewens op die spel geplaas deur taxibestuurders wat roekeloos deur die strate jaag, verkeersreëls ignoreer en totale minagting vir die veiligheid van ander padgebruikers toon. Hulle oortree alle wette, ry ver bo die spoedgrens, verander van baan sonder waarskuwing, en neem ’n kans by rooi verkeersligte – alles in die naam van tyd en geld.

Wat nog meer ontstellend is, is die toestand van baie van hierdie voertuie. Daar is ’n kommerwekkende aantal onpadwaardige taxi’s op ons paaie – voertuie met gladde bande, gebreekte ligte en rook wat uit die uitlaatpype stroom. Hierdie voertuie is duidelik nie in ’n geskikte toestand om passasiers veilig te vervoer nie en stel die insittendes en ander padgebruikers in groot gevaar.

Die frustrasie onder inwoners is tasbaar, want dit voel asof daar geen optrede van wetstoepassers is om hierdie probleme aan te durf nie. Dit lyk of die oë toegeknyp word vir die blatante oortredings wat daagliks gepleeg word.

Dit is onaanvaarbaar dat ons paaie soos ’n speelgrond vir hierdie roekelose bestuurders geword het, terwyl die res van ons in vrees moet leef elke keer as ons agter die stuur inskuif.

Ek doen ’n ernstige beroep op die plaaslike owerhede en wetstoepassers om dringend op te tree teen hierdie onwettige en gevaarlike gedrag.

Dit is tyd dat ons paaie weer veilig word vir alle inwoners van en besoekers aan die Paarl. Ons kan nie langer toelaat dat hierdie taxibestuurders die veiligheid van ons gemeenskap in gedrang bring nie.


Met Besorgdheid,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.