“‘n Mens moenie stilsit en niksdoen nie. Jy moet besig bly en gesond eet.” Dít is die geheim vir ‘n lang en gelukkige lewe, het Joan Beyers (oorspronklik Humewood), ‘n inwoner van Huis Vergenoegd in die Paarl, gesê nadat sy onlangs haar 100ste verjaarsdag saam met haar familie gevier het.
Joan is sedert 2001 ‘n inwoner van Huis Vergenoegd en het eers onlangs na die siekeboeg-afdeling geskuif nadat sy lank in haar eie woonstel gebly het.
Om ‘n volle eeu oud te word, is ‘n besondere mylpaal wat min mense bereik, en soos die jare verloop het, het Joan se lewe net ryker aan avonture geword.
Van dié avonture sluit in om amper reg oor die wêreld te toer en die kultuur,
argitektuur en kookkuns van verskeie vastelande, insluitend Europa, Amerika, Asië, Indonesië en Afrika, te ervaar en te beleef.
Joan het laggend vertel dat sy eers in die 2010’s in haar tagtigs besluit het sy moet seker nou briek aandraai, maar nie omdat sy genoeg gesien het nie – omdat haar geld opgeraak het.
Buiten haar liefde vir reis was sy ook alom bekend onder die Huis Vergenoeg-inwoners as ‘n groot “bok vir sports”. Hier het sy gereeld kaart gespeel, aan oefensessies by Huis Vergenoegd deelgeneem en ook gereeld op die dorp se plaaslike baan rolbal gespeel.

Joan is oorspronklik van Bloemfontein, maar het die grootste deel van haar kinderjare in Derdeheuwel, Montagu, deurgebring, waar sy as onderwyseres by ‘n plaaslike skool gewerk het. Hoewel sy nie ‘n gebore Paarliet is nie, het sy wel die grootste deel van haar lewe hier gewoon.
Haar bekendstelling aan die Paarl was in die laat jare dertig toe sy as groentjie by die Hoër Meisieskool La Rochelle aangesluit het. Sy was die derde geslag Humewood by Larries en het in 1942 gematrikuleer. Daarna het sy haar onderwysstudies aan die destydes onderwyskollege in die Paarl voltooi voordat sy verder aan die Universiteit Stellenbosch in die onderwys studeer het.
Intussen het Joan haar man en later die pa van haar drie kinders, Coen Beyers, ontmoet. Hulle is in 1949 getroud en het na Zebediela in Limpopo verhuis, waar Coen as ‘n sielkundige navorser gewerk het. Daar het die Beyers-egpaar hul drie kinders gehad voordat Coen in 1960 op 37-jarige ouderdom oorlede is.
Joan het toe sak en pak teruggetrek na die Wes-Kaap met haar kinders (destyds agt jaar, ses jaar en vier maande) waar sy tot haar aftrede in 1987 as ‘n gr. 3-onderwyseres by die Paarl Primêre Seunskool gewerk het.
Haar jongste kind, Raadi Beyers, is in 2000 op 40-jarige ouderdom oorlede.
Vandag sit sy agteroor ná ‘n hele eeu se herinneringe en word deur haar oorblywende twee kinders, 10 kleinkinders en 20 agterkleinkinders besig gehou.