Ouma Johanna Cain het Maandag haar 100ste verjaarsdag by die Boschendal-landgoed gevier. Sy was vir jare die toesighouer van die einste landgoed se Manor House.

Cain het haar spesiale dag saam met haar familie deurgebring.

Adv. Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit, het ook gesig gewys om Ouma Cain met haar eeuviering geluk te wens.

Ouma Cain is in Stellenbosch as die oudste van vyf kinders gebore. Sy vertel haar ouers moes lang ure by hul onderskeie werke deurbring, en as gevolg hiervan was sy genoodsaak om by haar grootouers in Oudtshoorn te gaan woon. Haar ma, Fransiena van Rooyen, was ’n vroedvrou en haar pa, Piet van Rooyen, het vir die Stellenbosch-munisipaliteit gewerk. Hy was ook ’n soldaat wat in die Anglo Boereoorlog en die Tweede Wêreldoorlog geveg het.

Ouma Cain moes ná gr. 4 noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk. As jongmens het sy die Evangelie in vakansietye saam met ander jeug versprei. Sy moes later terugkeer na Stellenbosch om na haar broer, wat siek was, om te sien. Hy het wonderbaarlik gesond geword.

“Dit was goeie jare, maar harde jare. Ek het baie streng grootgeword, maar toe die nood en swaarheid kom, kon ek dit verduur.”

Ouma Cain het later by Boschendal as toesighouer begin werk. Sy het op 70-jarige ouderdom afgetree. “Hulle almal saam wie ek gewerk het, is lelik,” spot sy. “Almal is al dood en los my hier alleen!”

In haar tien dekades het Ouma Cain meer as een kans op liefde gehad. Sy was drie keer getroud, en al drie eggenote is reeds oorlede.

Sy het haar uiteindelik in die Paarl gevestig, waar sy tot onlangs gewoon het. Sy geniet nog goeie algehele gesondheid, hoewel haar ledemate, sig en gehoor oor die jare as gevolg van haar ouderdom verswak het. Sy het nie lank gelede nie by haar jongste dogter in Belhar ingetrek. Van haar agt kinders is haar jongste dogter, Petronella, en haar jongste seun, Norman, die enigste oorlewende kinders.

Ouma Cain skryf haar lang lewe met ’n “dankbare hart” toe aan die Here “wat my deurgedra het”. Sy is egter nie die enigste in haar familie wat 100 gehaal het nie. Haar ma, Fransiena, het 103 jaar oud geword en haar pa, Piet, 107.

Respek en om nie verkeerde dinge toe te smeer nie, is die wenke wat sy deel en sê haar tot vandag gedra het. “Jy moet respek hê vir grootmense, en vir kinders ook. As daar fout is, help, en as jy iets verkeerds sien, sê dit is verkeerd.”. Johanna Cain celebrated her 100th birthday on Monday at the Boschendal Estate. She worked for many years as the supervisor of the very estate’s Manor House.

You need to be Logged In to leave a comment.