Ouma Lil se karringmelk-botterbroodjies


Sjef Charne Wylie van Capsicum Kulinêre Skool deel hierdie heerlike en maklik resep – net reg vir naweek-bak:

Ouma se karringmelkbotterbroodjies vir teetyd (maak ongeveer 12)

Jy benodig:

4 koppies meel

30 ml bakpoeier’n knippie sout80g koue botter

50 ml suiker

250 ml karringmelk

125 ml water’n Ekstra eier, geklits, as eierglans

So maak jy:

• Voorverhit jou oond tot 180 °C.

• In ’n groot mengbak, sif die meel, bakpoeier en sout saam.

• Vryf die koue botter in die meelmengsel totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker by en meng goed saam.

• Meng die karringmelk, eier en water saam en voeg dan by die botter en meelmengsel. Laat als goed saam bind tot ’n deeg vorm. 

• Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en knie liggies tot gladde deeg. Moenie te veel oorwerk nie, hoe minder werk aan die deeg, hoe beter.

• Rol liggies uit tot ongeveer 3 cm dik. Druk dan deegsirkels uit van ongeveer 8 cm deursnee. Plaas die deegsirkels op ’n gesmeerde bakplaat naby aan mekaar. Borsel met die geklitste eier vir ’n wonderlike goue kleur.

• Bak vir 15 tot 20 minute of tot mooi gerys en goudkleurig. Bedien hulle dan steeds effe warm met konfyt en vir ’n ekstra bietjie bederf, ’n lepeltjie geklopte room daarop.

You need to be Logged In to leave a comment.