Die einde van ’n era het in Wellington aangebreek met een van hierdie Bolandse dorp se erfenis-bakens, die Ouma Granny-huismuseum, wat sy deure noodgedwonge moes sluit.
En weereens is dit misdaad wat ’n entiteit so ver gewurg het dat dit uiteindelik in duie gestort het.
Ouma Granny is 28 jaar al ’n ou bekende gesig in Wellington.
Die museum is deur ’n handjievol Wellingtonners gestig wat die outydse lewe wou bewaar en vir die jonger asook toekomstige geslagte die prentjie skets van hoe die wêreld in oupa en ouma se tyd asook voor die nywerheids- en huidige tegnologiese revolusie daar uitgesien het.
Die huis in Fonteinstraat is in 1876 deur P.B. Marchand gebou.
Maar vir die afgelope dekades het die woning in die besit van die munisipaliteit beland wat dit op sy beurt aan Ouma Granny se bestuur as museum vergun het.
Joyce Hoogenhout-Morse het die destydse Wellington-munisipaliteit in Mei 1990 gevra of hy belang sou stel om die private versameling wat sy en haar man, Imker, op hul plaas Optenhorst gehad het, na ’n geskikte perseel op die dorp te skuif vir uitstalling aan die publiek.
So is die Viktoriaanse huisie oopgestel en Ouma Granny-huismuseum is gebore.
Joyce was al in daardie jare lank besorg oor die skeiding van taal- en kultuurgroepe.
Die naam van die huismuseum, naamlik Ouma Granny, was toe heel gepas. Joyce was Engelssprekend. Sy het in Wepener in die Vrystaat grootgeword en was Sotho magtig. Haar man, Imker, die kleinseun van die taalstryder C.P. Hoogenhout, was Afrikaanssprekend.
Sy was van mening ons het almal gemeenskaplike voorsate en ons hoort in een land, Suid-Afrika, en ons moet in vrede en liefde kan saamleef.
Godsdiens was vir haar belangrik en Bybels in Hoog Hollands, Sotho, Hebreeus en Engels, onder meer, is deel van die versameling.
’n Perkamentrol van die Boek Esther asook ’n pragtige uitbeelding van die Klaagmuur in Jerusalem is deur lede van die destydse Joodse gemeenskap van Wellington aan die Ouma Granny-huismuseum geskenk.
Die KhoiSan-gemeenskap was die vroeë inwoners van hierdie gebied. Vele voorbeelde van steenimplemente wat in die gebied gevind is, is deel van die versameling.
Die museum was ’n waardevolle uitbeelding van verskeie erfenisse en kulture.
Maar nou is hierdie museum iets van die verlede en sy waardevolle skatte uit toeka se tyd sal nou ’n donker graf in ’n stoorplek beleef.
Christine Siebrits van die museum het gesê die afgelope ruk is bykans al hul goedere wat van koper of brons vervaardig is, gesteel.
Diewe het al verskeie kere deur die dak van die museum ingebreek.
Hulle steel die koperware (koper was in die dae van ouds ’n baie gewilde metaal om borde, bekers, ketels, kandelare en potte te maak), wat dan eenvoudig onherkenbaar opgekap en verbrand word en dan aan skroothandelaars verkoop word.
Christine het gesê Ouma Granny se skatte word nou in veilige bewaring gebêre totdat iemand met ’n moontlike alternatief vir hierdie uitstalling vorendag kom.
Sy het bygevoeg mense wat deur die jare oudhede aan die museum geskenk het en dit nou wil terughê – indien dit nie deur diewe gesteel en verrinneweer is nie – kan haar enige tyd kontak.
Christine het ook gesê sy sal voortgaan om die publiek te help met inligting uit die ou dae.
. Kontak Christine of Daphne by 021 873 3093 of 083 231 7027 of per e-pos by d.j.s@mweb.co.za.