Leerders by St. Helenabaai Primêr gee gehoor aan die Covid-19-reëls deur ’n veilige afstand te hou. Foto:


WESKUS – Nog leerders het vandeesweek teruggekeer skool toe, maar ouers blyk steeds bekommerd te wees oor hul kinders se veiligheid.

Weslander is Vrydag deur ’n ma gekontak wat meen haar dogter se laerskool het nie die nodige voorsorgmaatreëls getref om die ekstra grade te verwelkom nie.

Dié ma is egter nie die enigste Weskusser wat bekommerd is oor haar kind nie.

“Skrap die jaar,” het lesers op Weslander se sosialemediablad geskryf.

Verskeie ander ouers het genoem sommige skole het reeds verskeie grade terug verwelkom ten spyte van die departement van basiese onderwys se aangepaste skoolkalender.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Vrydag 11 Junie ’n aangepaste skoolkalender bekend gemaak. Volgens dié kalender (sien kassie) sal alle leerders aan die einde van Augustus by die skool wees.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwys­departement (WKOD), sê skole kan leerders van verskeie grade verwelkom indien die skool se Covid-19-noodplan dit toelaat. Sy sê indien die nodige veiligheidstappe by skole bewerkstellig is, mag onderrig so ver as moontlik voortgaan.

“ ’n Skool mag van die fases afwyk sodra die kennisgewing en verklaring aan die departementshoof voorgelê is. Die provinsiale onderwysdepartement behou die reg om, sodra die afwyking van die fase-terugkeer na die skool begin is, ’n inspeksie te doen om te verifieer dat die skool aan die maatreëls en vereistes voldoen,” verduidelik Hammond.

Ouers is egter nie alleen in hul onsekerheid nie. Skoolpersoneel kan aansoek doen by die WKOD om gedurende die pandemie van hul huis af te werk. Teen die einde van Junie het die WKOD reeds 1 787 toegewings vir hoërisiko-onderwysers goedgekeur. Dit beteken onderwysers sal nie fisiek klasgee nie, maar lesse aanlyn of digitaal aanbied.

Die departement sê in gevalle waar ’n skool ’n bevestigde geval van Covid-19 het, moet die skool gereinig word. Enigeen wat direkte kontak met die positiewe persoon gehad het, moet hom of haar vir 14 dae afsonder.

“Dit is nie nodig om die hele skool te sluit nie – ’n evaluering word in elke geval gedoen om te bepaal hoeveel mense in direkte kontak was en waar die sieke was,” het die WKOD in ’n verklaring verduidelik.

Skole moet gereinig word waar nodig en moet daagliks hul veilige prosedures volg.

Die prosedure behels onder meer die sifting van mense deur hul temperatuur te meet en dit aan te teken, hulle moet ’n vraelys beantwoord en hul hande moet ontsmet word.

Almal moet te alle tye maskers dra.

Verskeie plaaslike skole het reeds bevestigde gevalle van die korona-virus gehad en het sedertdien heropen.

You need to be Logged In to leave a comment.