Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) kon Maandagaand (12 Februarie) op ’n vergadering vir die ouers van leerders by New Orleans Primêr antwoorde gee oor die skoolgebou nadat ouers en ondersteuners verlede Vrydag na die departement se kantoor in die Paarl opgeruk het.
Ouers is keelvol en het baie vrae nadat hul kinders sedert Augustus verlede jaar na nabygeleë skole in die dorp vir onderrig geskuif is. Die besluit is deur die WKOD geneem nadat die departement die skoolgebou onveilig verklaar het. Die skole wat die leerders tans akkommodeer, is Amstelhof Primêr, Orleansvale Primêr en Nieuwedrift Primêr.
Volgens Bukeka Booi, wat Vrydag teenwoordig was, is twee van haar kinders ook leerders by New Orleans. Sy sê as dit makliker vir haar sou wees om haar kinders in ’n ander skool te sit, sou sy dit al gedoen het, maar dit is nie.
“Die probleem is die departement laat ons nie toe om die kinders in ’n ander skool te sit nie, want hulle sê die ander skole is reeds vol. Ons kan dus nie ons kinders uit New Orleans neem nie. As ons ons kinders uithaal, beteken dit eenvoudig dat ons kinders nie ’n skool sal hê nie.
“Die ander probleem is dat hulle na ’n ander skool vervoer moet word en die kinders kom gefrustreerd by die huis en sê vir ons dat hul klaskamer baie vol is. Hulle kan nie sulke situasies hanteer nie. Hulle (WKOD) het verlede jaar gesê hulle gaan mobiele klasse bring wanneer die tweede kwartaal begin, maar nou hoor ons hulle gaan nie nou die mobiele klasse bring nie, maar eers in die derde kwartaal.”
Die WKOD het vroeër aan Paarl Post bevestig dat busse gereël is om die leerders na dié skole te vervoer.
’n Ouer, Brialene Domingo, het dit tydens die protesaksie aan die koerant bekendgemaak dat daar nie vervoer verskaf word aan leerders wat tans by Orleansvale Primêr geakkommodeer word nie.
Die rede hiervoor is glo omdat Orleansvale Primêr binne loopafstand van New Orleans Primêr is – dit ten spyte van die feit dat die kinders die besige Van der Stelstraat moet oorsteek en deur Chicago, ’n bendegeteisterde woonbuurt, moet loop om by die skool uit te kom.
“Ek is baie ongelukkig. My seuntjie is in graad vyf en is in Orleansvale geplaas. Vir my is dit nie lekker nie, want hy moet nou uit New Orleans loop, want daar is nie voorsiening vir hulle vir ’n bus nie en Chicago is nie ’n veilige plek vir kinders nie,” sê Domingo.
“Ek voel hulle moet darem Orleansvale se kinders ook akkommodeer met vervoer. Al die ouers het nie geld vir vervoer nie, so hoe maak ons nou, want ons bly naby New Orleans Primêr, maar nou moet ons kinders Chicago toe loop en hulle word geboelie daar. Ons voel glad nie gelukkig oor die beloftes wat gemaak word nie.”
Kervin Bouwers, voorsitter van New Orleans Primêr se skoolbeheerliggaam, het aan Paarl Post bevestig dat die vergadering met die ouers goed afgeloop het.
“Ons het goeie nuus gekry. Die direkteur van die Wynland-onderwysdistrik, Noel Petersen, was self teenwoordig, en ook die kringbestuurder, Kayaletu Boesman, asook die ouers. Hulle het uitslag gekry van die vergadering dat ons teen einde Junie minstens 20 klaskamers klaar gebou sal hê. Dan kan ’n gedeelte van die skoolkinders terugkom.
“Daar moet nog besluit word watter gedeelte van die leerders kom eerste terug. So, daar is vordering. Dan moet die departement net kyk na die toestande vir die kinders by die ander skole, wat 60 kinders in die klas het, om die klasse te verklein. Ek dink die ouers is meer as tevrede met die uitslag.”
Oor die kinders wat by Orleansvale geakkommodeer word en skool toe moet stap of hul eie vervoer het, voeg Bouwers by: “Kyk, dit was die ooreenkoms met die ouers.
“Aangesien Orleansvale binne loopafstand van die skool af is, is besluit dat hulle nie vervoer gaan kry nie, want dit is nie logies dat hulle vervoer moet kry vir ’n paar kilometer nie. Ek dink dis sowat 2 km of 3 km se stap van ons skool af.”
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, het verder bevestig dat die plan om ’n nuwe skoolgebou op te rig, goedgekeur is.
“Daar word verwag dat die eerste fase van konstruksie teen einde Junie voltooi sal wees. Dit sal uit 20 nuwe klaskamers bestaan om leerders te akkommodeer, met ’n bykomende 12 klaskamers wat in die tweede fase gebou sal word.
“Ons is opgewonde vir die projek om te begin en waardeer die geduld wat deur die skoolgemeenskap getoon is terwyl ons planne en begrotings gefinaliseer het.”
Hammond sê die WKOD is egter nie bewus van enige formele klagtes wat ingedien is oor die veiligheid van leerders wat by Orleansvale geakkommodeer word nie.
“Daar is met die SBL ooreengekom dat leerders uit die gemeenskap (New Orleans) nie vervoer sal benodig nie – wat die geval is met die ander twee skole wat leerders akkommodeer.
“Die distrik is nie bewus gemaak van enige veiligheidsbedreigings nie, maar sal verder ondersoek instel.”
Intussen het Riedwaan Ahmed, waarnemende provinsiale uitvoerende hoofdirekteur van die onderwysersunie Naptosa, laat weet dat hulle hul bekommernis oor die situasie by New Orleans Primêr hierdie week met die WKOD gedeel het. Naptosa is besig om verdere stappe te neem rakende hul bekommernis.


