Blomme was Donderdag by die ingang van die huis in Bethelstraat geplaas waar Dalene Slabbert Dinsdagaand doodgebrand het.Foto: Rasaad Adams


’n Oudonderwyseres van die Laerskool Swartland in Malmesbury en een van haar honde is Dinsdagaand in ’n huisbrand in sentraal Paarl dood.

Die vrou, vermoedelik in haar 60s, het slegs drie weke gelede in die huis in Bethelstraat ingetrek.

’n Bron by die plaaslike reddingsdienste het aan Paarl Post gesê hulle is Dinsdag omstreeks 20:00 na die toneel ontbied.

“Met paramedici se aankoms was die brandweer reeds besig om die vrou uit die huis te bring. Ons het haar buite op die gras neergesit en haar probeer by-bring. Sy is toe na een van die hospitale in die dorp gehaas.”

Die bron sê die vrou is in die hospitaal dood verklaar. Sy het vermoedelik weens rookinaseming gesterf.

Die bron het gesê dat sy geen sigbare brandwonde, behalwe op haar hande, gehad het nie.

Die nooddienste het ook die oorskot van een hond in die puin ontdek. ’n Ander hond is deur bure na ’n veearts vir behandeling geneem.

Die vrou is intussen deur familie- en vriende as Dalene Slabbert op sosiale media uitgeken.

Die Laerskool Swartland het by navraag aan Paarl Post bevestig dat Slabbert vir 34 jaar daar skool gegee het.

Sy het in 2019 afgetree.

Paarl Post het Donderdag die huis besoek waar blomme by die ingang geplaas is.

Die reuk van brand het nog in die lug gehang.

’n Buurvrou het gesê hulle het die brandweer omstreeks 19:50 gebel nadat die vlamme reeds by die huis se dak uitgebars het.

Sy sê Slabbert het aan die begin van September by die huis ingetrek.

“Sy het vir sowat drie weke hier gebly. Toe sy ingetrek het, het sy haarself aan ons kom voorstel. In hierdie buurt kyk ons mos maar uit vir mekaar. Ek verstaan dat een van haar honde doodgebrand het en ’n ander hond veg vir sy lewe. Dis maar baie tragies,” het die buurvrou gesê.

Volgens die buurvrou het familielede Woensdag die huis besoek en ’n paar van die besittings wat gered kon word versamel.

Sy sê Slabbert se dogter is in Frankryk en is reeds oor die voorval ingelig.

Slabbert se man, Johannes, is in 2021 oorlede.

Die polisie het intussen met ‘n ondersoek begin.

Kry volgende week se koerant vir die volledige storie.

You need to be Logged In to leave a comment.