’n Geskiedkundige oomblik in die Paarl het Saterdag 5 Februarie plaasgevind toe Claude Whatley vereer is as die langslewende onderwyser van die destydse Hoër Handelskool Paarl, nou die Hoërskool Labori. Claude het 35 jaar ononderbroke diens as senior onderwyser aan hierdie geskiedkundige skool gehad, en het 40 jaar diens in die onderwys gedoen. ’n Medalje, voorsien deur Boland Badge@Engraving, is deur een van Claude se hokkie-sterre van 1957, Myrtle Kriegler (voorheen Botha), aan hom oorhandig vir voortreflike diens aan hul skool. Dit was juis onder Claude se afrigting dat die Hoër Handelskool se eerste hokkiespan in 1957 die Boland-ligabeker verower het. Verskeie oudleerders het hulde aan hul geliefde oudonderwyser gebring in toesprake en boodskappe in die personeelkamer. Claude was in die reëlingskomitee by die 50ste bestaansjaar van die Hoër Handelskool (1929-1979) en ook ’n gelamineerde historiese oorsig van die Hoër Handelskool se geskiedenis, wat uit sy pen kom, is aan hom oorhandig. Op die foto is Claude (sittend agter tafel) saam met oudleerders, vriende en familie by die geleentheid.Foto: Colin Butler