Bergrivier Sekondêr vier nie net vanjaar sy 70ste bestaansjaar nie, maar verwelkom ’n oudleerder as die nuwe skoolhoof by sy alma mater.
Anthony Cavernelis (55), wat reeds 33 jaar in die onderwys is, het in 1981 aan Bergrivier Sekondêr gematrikuleer. Hy neem nou die leisels oor by Gordon Julies wat ná ses jaar as hoof uitgetree het.
Cavernelis, ’n Wellingtonner in murg en been, was oorstelp toe hy die goeie nuus ontvang dat hy as die nuwe skoolhoof aangewys is. Dit maak hom die agtste skoolhoof van Bergrivier.
Hy het reeds van kleins af geweet dat onderwys die kragtigste wapen is om ’n verskil in kinders se lewe te maak en sodoende kan hy help om die wêreld te verander.
Met hierdie in sy gedagte het hy in 1984 sy B Ekon-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf, waarna hy sy verdere studies in hoër onderwys ook by die universiteit in 1985 voltooi het. Hy het in 1993 deeltyds weer aan die universiteit gestudeer en sy B Ed-graad voltooi.
Cavernelis is al 31 jaar lank met Angela getroud en die egpaar het drie kinders.
“Die onderwys het die afgelope dekades groot veranderings ondergaan. Die kurrikulum het onder meer al vier keer verander en administratiewe take raak al hoe meer. Leerders is nie meer so pligsgetrou, hardwerkend en gedissiplineerd nie,” vertel Cavernelis.
Vir hierdie edele beroep wat Cavernelis met passie, toewyding, verdraagsaamheid en deursettingsvermoë volg, het hy ’n korttermyndoel om die skool in die regte rigting te stuur en die regte dinge te doen.
Hy beoog ook om in die volgende drie jaar elke ouer in die omgewing van Bergrivier Sekondêr te oorreed om dié skool te kies as sy/haar voorkeurkeuse om sy/haar kind in te skryf.
Hierdie skoolhoof is bekend vir sy vak – ekonomie – wat hy knap aanbied sodat hy dit vir leerders so interessant as moontlik kan maak.
Cavernelis is daarop gesteld om dié skool weer te vestig as ’n baken van akademiese uitnemendheid.
Ten spyte van die uitdagings en hulpbronne wat vir die personeel by Bergrivier beperk is, maak die onderwysers die beste van die geleentheid vir die 1 150 kinders wat aan hulle toevertrou is.
“My daaglikse visie is om die skool tot my volle potensiaal te bestuur en ’n verskil in elke kind se lewe te maak.”
Nog buitemuurse aktiwiteite wat sy lewenspad elke dag die moeite werd maak, is dat hy tans die voorsitter van die Wellingtonse Tuinbouvereniging is. Sy gesig is ook bekend in die gemeenskap as kerkvoog van die St. Albans en St. Augustine Anglikaanse kerk in Wellington.. A principal who was born and raised in Wellington was appointed as the head of his alma mater this year.