Sy ouers se wense was nog altyd dat hy moes terugkeer na die Wellingtonse klub waar sy rugbyloopbaan begin het, en nou is hy aangewys as die hoofafrigter van Newtons RFC (Bombelas) vir aanstaande jaar se rugbyseisoen.
Só het die Wellingtoner Hyco Jacobs vandeesweek vertel nadat hy een van ses kandidate was wat hulself vir dié posisie beskikbaar gestel het.
Jacobs het sy termyn reeds Maandag (20 Oktober) met vuur en vlam op die eerste dag van Bombelas se rustyd begin.
“Ek moet erken dat ek Maandagaand so ‘n bietjie senuweeagtig was. ‘n Mens weet mos nie altyd wat om op die eerste dag te verwag nie.
“Gelukkig het ek al saam met baie van hierdie spelers gespeel. Ons het dus ‘n wedersydse vriendskap en respek.
“Die spelers en bestuurder is gretig. Hulle is opgewonde oor aanstaande jaar se seisoen en die verwagting is dat ons niks minder nie as suksesvol sal wees,” het Jacobs telefonies gesê.
Jacobs, ‘n boorling van Wellington, het sy rugbyloopbaan by Bombelas op 19-jarige ouderdom begin.
Hy het oor die jare vir verskeie klubs gespeel, insluitend semi-professionele rugby in sy tyd by die Boland-Kavaliers.
Hy vertel dat dit nog altyd sy droom was om professionele rugby te speel, maar beserings het daardie drome gekniehalter.
Hy vertel dat hy in 2018 begin het om skolerugby in onder meer Wellington af te rig.
Jacobs het sy laaste rugbywedstryd vir Roses United RFC in 2023 gespeel toe die span in die Sanlam-Boland-Top-12- rugbytoernooi teen Darling RFC te staan gekom het.
Oor die vraag hoekom hy hom vir die posisie as Bombelas se hoofafrigter beskikbaar gestel het, het Jacobs klem daarop gelê dat dit by dié klub is waar sy rugbyloopbaan begin het.
“Die liefde vir hierdie klub was nog altyd daar.
“My ouers – hoewel hulle my oor die jare in alles ondersteun het – is nog al die pad Bombelas-ondersteuners.
“Dit was nog altyd my ma se wens dat ek moes terugkom Bombelas toe.
“Ek het nou wel nie as ‘n speler teruggekeer nie, maar is dankbaar vir die voorreg en geleentheid om as hoofafrigter te kan terugkeer.”
Jacobs sê hy is bewus die druk is groot op Bombelas om weer die Top- 12 te haal.
“Bombelas het ‘n baie ryk kultuur en daar is groot verwagtinge om op die mees onlangse suksesse voort te bou.
“Die bestuur, spelers en groter gemeenskap is suksesgedrewe.
“As ‘n korttermyndoelwit wil ek gaan kyk hoe ons kan voortbou op dit wat gewerk het, maar terselfdertyd aandag skenk aan die gebiede waarin ons nie so goed gevaar het nie,” het Jacobs benadruk.
Kenneth Williams, Bombelas se voorsitter, het Jacobs se aanstelling verwelkom.
“Ons wens hom en sy gesin sterkte toe met die werk wat voorlê.
“Ons is ‘n baie trotse klub wat natuurlik in die Top-12 wil speel en in die Witsentraal-kompetisie goed wil vaar, dus wens ons hom sterkte toe met daardie taak.
“Aan ons spelers en toeskouers – ons leuse is ‘Stil en doen’.
“Laat ons dus ons nuwe afrigter met die nodige respek hanteer en aan hom die nodige ondersteuning bied.”





