Tans is die Stormers aan die voorpunt van die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hy Saterdag vier ligapunte in sy kragmeting teen die Haaie op Kingspark in Durban verdien het.
Danksy die oorwinning van 25-21 – naelskraaps maar welverdiend – is die Stormers twee punte voor die Bulle in die stryd om die Suid-Afrikaanse Skild. As die Stormers die groot Noord-Suid-derby op 2 Maart in Pretoria wen, kom die Skild ’n derde jaar in ’n ry Kaap toe.
Rugbyspelers wat in die Paarl geskaaf is, het vanjaar weer eens die Stormers gehelp om nog ’n groot mylpaal te bereik.
Die Paarl is bekend as ’n rugbyfabriek, met baie internasionale sterre wat hul rugbyreis in dié Wynlanddorp begin het. Ses spelers vanuit die vallei is in die huidige Stormers-groep, wat by Paarl Boys’ High en Paarl Gimnasium geskool is.
Hulle is Frans Malherbe, Salmaan Moerat, Evan Roos, Jean-Luc du Plessis en Paul de Wet wat almal uit die Boishaai-stal kom, voordat hulle professionele spelers geword het, en Jurie Matthee, wat in 2018 vir Gimnasium se eerstespan gespeel het, en ook deel is van die 2023-’24 se kragtige Stormersspan.


