Die wynbedryf is in rou gedompel oor die afsterwe van Ritzema de la Bat, ’n gerespekteerde leier en innoveerder in die bedryf.
De la Bat (88), wat van 1979 tot 1994 aan die stuur van die KWV gestaan het, het ’n onuitwisbare merk op die bedryf gelaat met sy visioenêre leierskap en toewyding aan uitnemendheid.
De la Bat, wat in Worcester gebore en getoë is, het sy akademiese loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waar hy grade in BSc en BCom verwerf het, gevolg deur ’n MBA. Sy loopbaan het by Sasol in Sasolburg begin, waar hy as bestuursassistent waardevolle ondervinding in die bestuur van ’n groot maatskappy opgedoen het. Hy het kortliks by die KWV aangesluit voordat hy ’n dekade lank ’n integrale rol by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit vervul het, waar hy die visie-rektor was.
De la Bat het in 1978 het na die KWV teruggekeer en van 1979 was hy die uitvoerende hoof. Dit was ’n uitdagende tyd in die wynbedryf, maar die KWV het onder sy leiding floreer. Hy het strategiese vennootskappe gesmee en was instrumenteel in die herstrukturering van die wyn- en bierbelange in die drankbedryf, wat tot die stigting van Kaapwyn gelei het. Hierdie onderneming het die langdurige konflik tussen produsente en groothandelaars opgelos en het KWV, Rembrandt, en SAB elk 30% aandele besorg, met die publiek wat 10% ontvang het.
De la Bat se leierskap het nie net by die KWV geëindig nie. Hy was ’n baanbreker in die brandewynbedryf en het ’n sleutelrol in die totstandkoming van wetgewing wat landgoed-brandewyn bevorder het, vervul. Sy visie en dryfkrag het ook tot die stigting van die SA Wyn- en Spiritualieë-uitvoerdersvereniging gelei, wat gehelp het om Suid-Afrikaanse wyne internasionaal te bevorder.
Sy toewyding aan die bedryf en sy vermoë om die KWV volgens streng sakebeginsels te bestuur, het die maatskappy in staat gestel om aansienlike finansiële sukses te behaal. Gedurende sy 16 jaar as hoofbestuurder het die KWV se wins merkwaardig gestyg.
De la Bat se nalatenskap as ’n leier wat die wynbedryf transformeer het, sal voortleef. Sy leierskap, insig en toewyding aan die bevordering van die Suid-Afrikaanse wynbedryf het hom ’n gerespekteerde figuur gemaak, en sy bydraes sal nie gou vergeet word nie.
Sy seun, Ritz, het gesê vir sy pa was sy gesin en familie baie belangriker as sy prestasies.
“Hy was ’n ware gesinsman. Hy was lief vir die liewe Heer, die see, kamp en toer in Afrika, mense met ’n “handicap” en enigiets wat die wêreld ’n beter plek sal maak.
“Almal het óf gekamp, óf visgevang óf gejag óf geduik, en meestal al voorgenoemde saam met Oupa gedoen. Sy liefde vir letterlik die hele wêreld se geskiedenis het hom die familie- ensiklopedie gemaak wat enige vraag kon antwoord met ’n gepaste storie daarby aangepas vir die ouderdom van die vraesteller – baie beter as wat Google sou kon.
“My pa kon luister na en gesels met enigiemand – van die ‘kneg tot die koning’. Hy het opreg belanggestel. Oud- KWV-werknemers, kelderwerkers, sekuriteitspersoneel en kombuiswerkers sê nou nog vir my stuur groete vir jou pa, sê vir hom so-en-so stuur groete, hy sal onthou, sê hom my kind het toe verder geleer en dit gaan nou goed, ensovoorts.
“Net verlede week weer gebeur dit met Willem by wynverkope by KWV en die man wat die wyn uit die kelder bring – almal wat vra hoe gaan dit met pa, waar’s hy nou en sê groete.
De la Bat laat sy vrou, vyf kinders, 16 kleinkinders en agt agterkleinkinders agter. Saam met al die gades is dit 43 geliefdes uit sy gesin.
Die begrafnis sal eers laat in Augustus plaasvind.