Die geliefde oud-hoof van die Hoër Meisieskool (HMS) La Rochelle, Christa le Roux, beter bekend onder leerders destyds as Daisy, is in die ouderdom van 90 oorlede.

Sy is Vrydag in die Altena-aftreeoord in die Strand dood.

Le Roux was as skoolhoof van 1963 tot 1991 – byna 30 jaar – aan die stuur in ’n pos waar sy “diep spore” getrap het, skryf HMS La Rochelle op die skool se Facebook-blad in ’n huldeblyk.

Le Roux het tot haar dood op 16 September in die Strand in die Altena-aftree-oord gewoon.

Die geliefde oud-skoolhoof het haar matriekjaar aan die HMS La Rochelle voltooi, waarna sy haar meesters- en S.O.D.-grade aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Sy is ná haar studies as Afrikaans-onderwyser by die Hoër Meisieskool Rocklands in Cradock aangestel, waar sy later as adjunkhoof aangestel is.

Hierna het Le Roux teruggekeer Paarl toe, waar sy tot haar aftrede die hoof van die HMS La Rochelle was.

“Ons eer haar nagedagtenis en was bevoorreg om haar met die viering van haar 90ste verjaardag te kon besoek.

“Haar [Le Roux se] toegewydheid, hoë standaarde en stylvolle voorkoms sal deur ’n legio oudleerders onthou word,” het HMS La Rochelle in die inskrywing gesê.

Dit is nie 100% seker hoe Le Roux die bynaam Daisy gekry het nie, maar waarskynlik weens haar voorletters wat DC was.

Wat wel seker is, is dat die Daisy steeds pronk as simbool van hierdie skool se trotse tradisies. . ’n Gedenkdiens vir Le Roux word op 14 Oktober om 10:00 by die NGK Suider-gemeente, Strand, gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.