‘n Geliefde oud Paarl Gimnasium-leerder en huidige Stellenbosch Universiteit-student, Thomas Bath (19), se lewe is op 1 Desember kortgeknip toe hy in ‘n motorfietsongeluk in Durbanville dood is.
Volgens sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisiediens, het die ongeluk op die hoek van Hoof- en Kerkstraat om ongeveer 20:45 plaasgevind.
Volgens berigte het Bath sy motorfiets gery toe hy teen ‘n lamppaal gebots het waarna hy deur mediese personeel op die toneel dood verklaar is. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek, het Twigg in sy terugvoering gesê.
Hy het bevestig dat die Durbanville-polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek en gevra dat enige persoon met inligting oor die ongeluk die Stop Misdaad-lyn op 08600 10111 bel, of die selfoon app “MySAPS” anoniem gebruik.

In ‘n Facebook-plasing op die Oud Gimmies-Facebook-blad spreek die blad hul medelye teenoor die Bath-familie uit. Luidens die Facebook-plasing het Bath in 2024 aan die Hoërskool Gimnasium Paarl gematrikuleer.
Luidens ‘n verklaring wat deur die Stellenbosch Universiteit (US) aan Paarl Post gestuur is was Bath ‘n BCom (Wiskundige Wetenskappe)-student en ‘n inwoner van die Huis Visser-koshuis.
“Ons gedagtes en innige meegevoel gaan uit na sy dierbare familie, vriende, mede Huis Visser-inwoners en klasmaats in hierdie moeilike tyd. Die skielike verlies van ‘n jong lid van ons universiteitsgemeenskap word deur ons almal diep gevoel,” het dr Leslie van Rooi, waarnemende studentedekaan, in die verklaring gesê.
“In hierdie baie moeilike tyd moet ons ruimte laat vir Thomas se familie en vriende om te rou,” volgens Van Rooi.
LEES OOK: Jong man van Stellenbosch sterf in ongeluk naby Klapmuts
Huis Visser se koshuishoof, dr Charl Davids, het bygevoeg: “Thomas was ‘n gewaardeerde en gerespekteerde lid van Huis Visser. Hy was iemand wie se stille krag, warm teenwoordigheid en gemaklike omgee op ʼn besonderse manier tot die hart van ons gemeenskap bygedra het.”
“Thomas was nie net bekend vir sy toewyding tot sy studies nie, maar ook vir die opregtheid waarmee hy met diegene rondom hom omgegaan het, volgens Davids.

“Sy afsterwe laat ‘n pynlike leegheid in Huis Visser, en hy sal baie gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. Ons gedagtes en innige meegevoel gaan uit na sy familie.
Hy het bygevoeg dat die Huis Visser-gemeenskap later inligting sal deurgee oor hoe Thomas se lewe in die nuwe jaar in die koshuis gevier sal word.
Bath se broer dien tans op Huis Visser se huiskomitee, luidens die US-verklaring.
Studente wat berading benodig, word aangemoedig om die Universiteit se 24-uur Krisisdiens te kontak by 010 205 3032 na-ure en by 021 808 4994 (Stellenbosch-kampus) en 021 927 7020 (Tygerberg-kampus) tydens kantoorure. Studente kan ook e-pos na supportus@sun.ac.za stuur om individuele berading te reël.
Paarl Post het uitgereik na die Bath-familie, maar hulle het aangedui dat hulle nie op hierdie stadium kommentaar wil lewer nie.


