Kyle Rademeyer (22), ’n voormalige Hoërskool Paarl Gimnasium-leerder, hou die landsvlag omhoog nadat hy goud vir Suid-Afrika by die CAA Afrika-seniorkampioenskap in Kameroen gewen het. Foto: Verskaf


Ondanks die feit dat hy op die laaste oomblik moes rondskarrel om pale in die hande te kry nadat sy eie pale nie opgedaag het nie, het Kyle Rademeyer (22), wat in 2020 aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer het, verlede week by die CAA Afrika-seniorkampioenskap in Kameroen met ’n hoogte van 5,20 m in paalspring goud vir Suid-Afrika gewen.

Dit is maar altyd ’n storie om pale op vlugte te kry. Gelukkig ken ons mense in nabye Afrika-lande by wie ons pale kon leen.

Rademeyer het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat hy twee dae voor die toernooi uitgevind het dat sy pale nie in die Kameroense stad Douala gaan opdaag nie.

“Dit is maar altyd ’n storie om pale op vlugte te kry. Gelukkig ken ons mense in nabye Afrika-lande by wie ons pale kon leen. Die pale wat ek toe gekry het, was, om mee te begin, nie dieselfde lengte as my eie pale nie. Ek moes dus ’n korter aanloop gedoen het.

“Om nie jou eie pale, waaraan jy gewoon is, te gebruik nie maak beslis ’n verskil. Dit is soos om gholf te speel. Jy het jou eie stel gholfstokke waarmee jy gewoonlik speel.”

Teen spyte van dié uitdaging met sy pale, het Rademeyer steeds in die mansafdeling van die kampioenskap geseëvier met ’n hoogte van 5,20 m in paalspring wat vir hom ’n goue medalje verseker het.

Hy sê dit is altyd ’n eer om die Suid-Afrikaanse vlag by sulke geleenthede omhoog te hou.

“Dit was vir my ’n groot eer net om daar te wees. Ek het dit geniet. Ek sou natuurlik beter wou gevaar het, maar daar was klomp omstandighede wat dit moeilik gemaak het. Nietemin, toe ek gehoor het ek het gewen, was ek baie bly. Dit is my eerste Afrika-titel. So, ek was baie bly en geëerd om die land te kon verteenwoordig.”

Rademeyer was 13 jaar oud toe hy ’n liefde vir paalspring ontwikkel het.

“Ek dink dit is seker maar die adrenalien wat daarmee gepaard gaan. Vir my is die sport beslis 5% fisiek en 95% mental. En dit is ook die benadering wat ek neem wanneer ek vir ’n toernooi voorberei. Ja, daar is heelwat fisieke oefening wat gedoen word, maar mens moet hoofsaaklik jou kop regkry,” sê hy.

Hy maak nie net naam vir Suid-Afrika nie, maar het ook in Junie verlede jaar die NCAA-kampioenskap in die Amerikaanse deelstaat Alabama met ’n hoogte van 5,70 m gewen, waar hy die South Alabama Universiteit verteenwoordig het.

Gevra oor sy toekomsplanne, sê hy dat hy graag in die nabye toekoms sy paalspringloopbaan verder wil vat.

“Ek gaan hoofsaaklik fokus op die paalspring vir nou. As dit God se wil is en Hy kan my met nog ’n hele paar goeie jare van paalspring seën, sal ek graag wil kyk hoe ver dit my kan vat.”

Hy studeer tans sportwetenskap aan die South Alabama Universiteit in Amerika, waar hy ook woon.

You need to be Logged In to leave a comment.