Jeannie le Roux en Michael Louw op die dag van hul verlowing in Desember 2023. Foto: Micheal Louw/ Facebook


Nóg ’n tragedie het die Paarl getref toe Jeannie le Roux (29) verlede Dinsdag (5 November) skielik oorlede is – skaars vyf weke voor haar troue.

Le Roux het in Rawsonville grootgeword en in 2013 aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer.

Sy was verloof aan Michael Louw, wat in die VSA werk en op 7 November in Suid-Afrika geland het nadat hy die skoknuus ontvang het, luidens ’n familie-verklaring wat aan die Paarl Post gestuur is.

Le Roux het ’n kitskosrestaurant in die dorp besoek, waar sy omstreeks 15:30 inmekaar gesak het en op die perseel oorlede is, lui die verklaring.

“Sover die familie bewus is, het dit geen verwantskap met die eetplek nie,” lui die verklaring.

Sy was nie siek nie, en die oorsaak van haar dood word tans ondersoek, sê kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie.

“Volgens ooggetuies het die oorledene in die eetplek gestaan ??toe sy skielik ineengestort het. ’n Geregtelike doods­ondersoek word gedoen,” sê Du Plessis.

Le Roux was die dogter van Karén le Roux en wyle Pieter le Roux en die jongste van vier kinders. Louw en Le Roux sou op 14 Desember trou aan mekaar sweer by haar familie se funksievenue, Kirabo Kompanje, in Rawsonville.

“Die familie is diep hartgebroke oor haar verlies en sal haar altyd in hul harte koester,” lui die verklaring.

Louw en Le Roux was nege jaar ’n paartjie, waarna hulle in Desember 2023 verloof geraak het.

“Ons opregte simpatie en diepe meegevoel met die heengaan van oud-Gimmie, Jeannie le Roux (MX’13). Ons harte gaan in liefde uit na die Le Roux-gesin en -familie in hierdie tyd. Mag God vir julle vertroosting bring en omvou met sy liefde,” lui ’n plasing op die Oud Gimmies – OSB Facebookblad.

‘n Gedenkdiens vir Le Roux was op 14 November om 15:30 by Kirabo Kompanje gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.