’n Geliefde jong man van die Paarl is onlangs skielik in Londen oorlede.
Roelof le Roux (38), ’n oud-Boishaaier wat die afgelope 13 jaar in Londen woon en werk, is op 1 Julie in sy huis oorlede.
Roelof se ma, Amanda, het vandeesweek aan Paarl Post vertel haar seun het haar nog tien minute voor sy skielike dood ’n Whatsapp boodskap gestuur met ’n hartjie daarby.
Dit is die laaste wat sy van hom gehoor het.
Sy en haar man, Roelf, het later by ambulanspersoneel in Londen verneem dat Roelof hul noodnommer gebel het om te sê hy voel onwel en vermoed daar is ’n probleem. Omdat hy kalm geklink het, het hulle sy toestand as kategorie 2 gelys – nie dringend nie.
Hy het hulle egter kort daarna weer gebel en laat weet hy het baie erger begin voel en terwyl hy nog aanlyn was, het sy stem weggeraak en hulle het ’n slag gehoor.
Met hul aankoms by sy woonadres was hy reeds oorlede.
Dit is bevestig dat die oorsaak van Roelof se dood ’n hartaanval was.
Volgens Amanda was hy gesond en fiks en het hy geen mediese toestand gehad waarvan hulle bewus was nie.
Amanda sê dit was ’n reuseskok vir haar en Roelf en hulle moes inderhaas reëlings tref om hul seun se oorskot te gaan haal en sy woonplek op te pak.
Dit was egter geensins ’n maklike taak nie.
Twee baie groot struikelblokke het in hul pad gelê. Al twee van hulle se paspoorte het tydens die Covid-19- pandemie verval en weens die lang rye buite die departement van binnelandse sake se kantoor in die Paarl het hulle die hernuwing hiervan keer op keer uitgestel.
Tweedens moes hulle aansoek doen om ’n Britse visum en die wagtydperk hiervoor is weens die pandemie baie lank.
Amanda sê hulle het uiteindelik wel redelik vinnig en vriendelik by die Paarlse kantoor van binnelandse sake geholpe geraak. Haar man het sy nuwe paspoort binne drie dae ontvang en sy hare in 16 dae.
Met die Britse visum was daar eers ’n gesukkel totdat hulle in aanraking gekom het met ’n vrou van Pretoria, wat mense se oorskot terugbring Suid-Afrika toe.
En so, ’n maand ná Roelof se dood, kon die Le Roux’s Londen toe vlieg om hul seun te gaan haal.
Amanda het gesê met hul aankoms is sy en haar man oorval met ondersteuning, gasvryheid en liefde van Roelof se oorsese vriende. “Almal het met die mooiste woorde van hom gepraat en stories vertel van hoe hy hulle te alle tye gehelp het. Dit is hoe hy was; altyd aan sy medemens gedink.
“Ook sy skoolvriende in Suid-Afrika, selfs dié wat saam met hom op laerskool was, skryf steeds vir ons die mooiste boodskappe en herinnerings.”
Die Le Roux’s het hul seun se besittings opgepak, sy meubels aan sy vriende geskenk en sy klere saam met hulle terug Suid-Afrika toe gebring.
Roelof se oorskot is in Londen veras en Amanda en Roelf het hul seun huis toe gebring.
’n Gedenkdiens vir Roelof word op 16 September om 14:00 by die NGK Suider Paarl (Courtrai) gehou.. A young and healthy man from Paarl died suddenly from a heart attack in London at the age of 38.


