Op die jongste Drakensteinse munisipale raadsvergadering was die Ou Meulteater in die Paarl – ‘n geliefde ruimte wat die bevordering van kuns en kultuur in die Drakenstein aanmoedig – op die agenda en ‘n voorge- stelde langtermynverhuring van die perseel is bespreek.

Sedert die vorige bestuurders van die Ou Meulteater in die Paarl, Lionel en Anél Maharajah, die tuig einde Januarie neergelê het nadat hulle as bestuurders bedank het weens skynbaar uitdagende “politiekery”, is die teater geslote.

Luidens die raadsvergadering, wat verlede Dinsdag (30 September) plaasgevind het, se agenda, kan die langtermynverhuring van die teater vir ‘n periode van nege jaar en 11 maande duur, met ‘n opsie om die ooreenkoms te hernu.

Volgens die agenda is die verslag vir die verhuring van die Ou Meulteater by die raad ingedien vir hul goedkeuring, terwyl die burgemeesterskomitee dit reeds goedgekeur het.

Indien die munisipale raad die verslag goedkeur, sal dit deur ‘n mededingende bodproses gaan waar partye kan aansoek doen om die huur van die eiendom.

Die waarde van die markverwante huurbedrag sal deur ‘n onafhanklike waardeerder vasgestel word en dit sal ook vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Volgens ‘n video deur die Maharajah-egpaar wat in Desember 2024 op die Ou Meulteater se Facebookblad gepubliseer is, het die egpaar, wat reeds vir sewe jaar die teater bestuur, en voor dit sedert 2007 as assistente vir die vorige bestuurders opgetree het, besluit om as bestuurders te bedank nadat die “politiek” om die teater te laat voortleef ‘n uitdaging geraak het.

In ‘n destydse telefoongesprek met Paarl Post het hulle uitgebrei oor die uitdagings wat hulle ervaar het met die DM, en hoe dit gelei het tot hul besluit om hul huurkontrak om die Ou Meulteater te bestuur, te beëindig.

Volgens die egpaar wat saam die teater bestuur het, is hulle in Julie vanjaar deur die DM ingelig dat hul huurkontrak in Januarie 2025 sal verstryk.

Die DM het toe glo vir die egpaar gesê dat hulle weer aansoek kan doen om die tender om die teater te bestuur, maar dat hulle “dalk nie suksesvol sal wees nie”.

Volgens die egpaar het die DM hulle sedertdien in die duister gehou oor hul toekoms by die teater, waarna hulle tot die besluit gekom het om as bestuurders te bedank en nie aansoek te doen vir die tender nie.

Die koerant het na die munisipaliteit uitgereik vir kommentaar, maar geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.