Die Ou Meulteater in Millstraat in die Paarl. Foto: Ou Meulteater/ Facebook


Die huidige bestuurders van die Ou Meulteater in die Paarl, Lionel en Anél Maharajah, lê einde Januarie die tuig neer nadat hulle bedank het as bestuurders van dié geliefkoosde teater.

Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die bostaande bevestig en gesê dat die munisipaliteit nie die huurkontrak met die huidige bestuurders van die Ou Meulteater hernu nie.

Hy het egter nie ’n rede hiervoor gegee nie.

Volgens ’n video deur die Maharajah-egpaar wat op die Ou Meulteater se Facebookblad gepubliseer is, het die egpaar, wat reeds vir sewe jaar die teater bestuur, en voor dit sedert 2007 as assistente vir die vorige bestuurders opgetree het, besluit om as bestuurders te bedank nadat die “politiek” om die teater te laat voortleef ’n uitdaging geraak het.

Anél en Lionel Maharajah. Foto: Verskaf

Hierdie besluit tree op 1 Februarie 2025 in werking, met die teater wat van daardie datum nuwe bestuurders sal verwelkom.

Volgens die Maharajah-egpaar is dit belangrik om uit te lig dat die Ou Meulteater nie sluit nie, maar slegs van bestuurders verwissel.

In ’n telefoongesprek het hulle uitgebrei oor die uitdagings wat hulle ervaar het met die DM, en hoe dit gelei het tot hul besluit om hul huurkontrak om die Ou Meulteater te bestuur, te beëindig.

Volgens die egpaar wat saam die teater bestuur het, is hulle in Julie vanjaar deur die DM ingelig dat hul huurkontrak in Januarie 2025 sal verstryk.

Die DM het toe glo vir die egpaar gesê dat hulle weer aansoek kan doen om die tender om die teater te bestuur, maar dat hulle “dalk nie suksesvol sal wees nie”.

Volgens die egpaar het die DM hulle sedertdien in die duister gehou oor hul toekoms by die teater, waarna hulle tot die besluit gekom het om as bestuurders te bedank en nie aansoek te doen vir die tender nie.

“Dit was sewe jaar van baklei [met die DM] vir dit en dat,” volgens Lionel.

Die egpaar het verduidelik dat dit ’n uitdaging geword het om die teater se instandhouding op peil te hou, veral omdat die munisipaliteit wat die gebou besit, nie geld hiervoor wou opdok nie.

“Ons het byvoorbeeld twee maande terug beligting aangemeld wat gebreek het, maar dit is eers onlangs reggemaak,” het Anél vertel.

Volgens die egpaar raak sulke vertragings kunstenaars se optredes, wat ’n impak kan hê op die inkomste wat die teater genereer.

Lionel Maharajah in ’n uitvoering in die Ou Meulteater. Foto: Verskaf

Die egpaar het oor die jare verskeie kere van hul eie geld gebruik om die gebou se instandhouding te verrig.

Hoewel die Maharajah-egpaar uittree as bestuurders, sal die herinneringe wat hulle by die Ou Meulteater gemaak het, vir ewig voortleef.

Volgens Lionel het hy deur die jare duisende kunstenaars ontmoet wat sy liefde vir die kunste verdiep het.

Anél het vertel dat dit van haar hoërskooljare ’n droom was om betrokke te raak by die teater – ’n droom wat waar geword het.

Wat lê voor vir die Maharajah-egpaar? Volgens hulle is dit tyd om op hulself te fokus en hul ander drome na te streef.

Anél gaan haar Tailored Arts Drama Academy-dramaskool uitbrei na ’n volwaardige produksiemaatskappy, terwyl Lionel beoog om sy sokkerklub, genaamd Cambio, gemik daarop om minderbevoorregte jeug met ’n liefde vir sokker op te lei, voort te sit.

Lionel, wie ook ’n musikant is onder die naam Lionel John, beoog om sy musiekloopbaan uit te brei.

Hy het tans 10 enkelsnitte op die musiekplatform genaamd Spotify.

You need to be Logged In to leave a comment.