Die gesin van die veroordeelde bedrieër Samuel Cupido woon steeds in ’n munisipale huis in ’n spogbuurt van die Paarl.
Cupido is aan bedrog skuldig bevind nadat hy in 2006, saam met drie ander munisipale werkers en nog ’n vrou, in hegtenis geneem is.
Sy inhegtenisneming het verband gehou met bedrog van R3 miljoen by die munisipaliteit.
Cupido en twee ander beskuldigdes, almal werkers by die munisipale werkswinkel, het met diensverskaffers gekonkel om die munisipaliteit te laat betaal vir dienste wat nooit gelewer is nie.
Na bewering is frontmaatskappye gestig om vervalste fakture aan die munisipaliteit te lewer.
Cupido is skuldig bevind en het ’n relatief kort tydperk agter tralies deurgebring, maar is weer op vrye voet.
Deur al hierdie regsprosesse het Cupido se gesin in die geskiedkundige woning, bekend as die Meulhuis en agter die Ou Meulteater in die Paarl, bly woon.
Die afgelope jare voer die Drakenstein-munisipaliteit wel ’n stryd om die gesin wettig uit die huis te verwyder, maar dié proses sleep voete. Die huis is ook reeds redelik verwaarloos.
Inwoners in die gebied vermoed ook dat meer as een gesin daar woon.
Seraj Johaar, DM se direkteur: korporatiewe dienste, het bevestig dat die Cupido-uitsetting nog aan die gang is, maar wou nie uitbrei oor in watter stadium dit is nie.
Johaar het voorts gesê dat daar ook ander munisipale eiendomme is wat onwettig beset word en dat hulle besig is om ’n opname hiervan te maak.. The family of a municipal worker who was found guilty of fraud at the municipality is still living comfortably in a municipal house on the slopes of Paarl Mountain.


