'n Wit gebou.
Die Ou Meul-teater in Mill-straat in die Paarl. Foto: Argief

Vandat die vorige bestuurders van die Ou Meulteater in die Paarl, Lionel en Anél Maharajah, die tuig einde Januarie neer gelê het nadat hulle as bestuurders bedank het weens skynbare uitdagende “politiekery,” is die geliefkoosde teater steeds toe agter slot en grendel.

Die eerste beplande vertoning, volgens Seraj Johaar Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, sal eers in Junie vanjaar geskied.

Die presiese datum, asook tipe vertoning bly immers onbekend met geen advertensie wat al hiervoor gesirkuleer is nie.

Volgens hom het die munisipaliteit ‘n aansoek vir ‘n tender vir die hele perseel waarop die teater gebou is, en nie net die teater self nie.

Luiedens ’n video in Desember 2024 deur die Maharajah-egpaar wat op die destydse Ou Meulteater se Facebookblad gepubliseer is, het die egpaar, wat reeds vir sewe jaar die teater bestuur, en voor dit sedert 2007 as assistente vir die vorige bestuurders opgetree het, besluit om as bestuurders te bedank nadat die “politiek” om die teater te laat voortleef ’n uitdaging geraak het.

In ’n telefoongesprek het hulle uitgebrei oor die uitdagings wat hulle ervaar het met die DM, en hoe dit gelei het tot hul besluit om hul huurkontrak om die Ou Meulteater te bestuur, te beëindig.

Volgens die egpaar wat saam die teater bestuur het, is hulle in Julie 2024 deur die DM ingelig dat hul huurkontrak in Januarie 2025 sal verstryk.

Die DM het toe glo vir die egpaar gesê dat hulle weer aansoek kan doen om die tender om die teater te bestuur, maar dat hulle “dalk nie suksesvol sal wees nie”.

Volgens die egpaar het die DM hulle daarna in die duister gehou oor hul toekoms by die teater, waarna hulle tot die besluit gekom het om as bestuurders te bedank en nie aansoek te doen vir die nuwe tender nie.

“Dit was sewe jaar van baklei [met die DM] vir dit en dat,” volgens Lionel.

Die egpaar het verduidelik dat dit ’n uitdaging geword het om die teater se instandhouding op peil te hou, veral omdat die munisipaliteit wat die gebou besit, nie geld hiervoor wou opdok nie.

Dit blyk dat die DM Paarl Post se nuutste navrae oor die voorleef van die teater ontduik deurom nie die koerant se vrae direk beantwoord nie.

Die koerant het weer vir die DM gevra hoekom die Maharajah-egpaar nie ‘n tender toegestaan is nie nadat die vraag in Desember 2024 se navraag, na bewering, geïgnoreer was, maar het weer geen terugvoering ontvang nie.

“Die DM is [tans] besig met ‘n interne konsultasieproses,” volgens Johaar se terugvoering.

“Hierdie datum is nog nie beskikbaar nie [en] die DM het minimale navrae ontvang.”

“Intussen gebruik twee drama-onderwysers die teater op ‘n weeklikse basis,” het Johaar gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.