Dit blyk dat ’n sindikaat OTM-diewe steeds in die vallei aan’t woeker is.
’n Plaaslike sakeman is die afgelope naweek by die OTM-sentrum van First National Bank (FNB) op die hoek van Commercial- en Lady Greystraat, Paarl, van derduisende rand beroof.
Neil Marquard vertel hy moes Vrydagaand vroeg gaan geld trek om ’n werker te betaal.
Hy is na die Lady Greystraat-tak van FNB omdat hy juis gedink het dit sal daar veiliger wees om ’n transaksie te doen.
Hy het vandeesweek aan Paarl Post vertel toe hy die OTM-saal van die bank instap, het ’n veiligheidswag oudergewoonte by die ingang gewaak. Hy het wel opgelet dat ’n paar mans by een OTM saamgedrom het, maar hy het aangeneem dit was ’n paar mense wat saam was.
Toe hy egter na een van die OTM’s gaan om sy transaksie te beklink, was een van die mans, wat in swart geklee was, ook met ’n pet op sy kop en boonop ’n gesigmasker op, skielik agter hom.
“Ek was op pad om my kaart in die masjien te druk toe hy letterlik byna bo-op my was. Hy het in Engels begin sê die stelsel het nou verander na cardless gebruik.
“Hy het heeltyd na my hand probeer gryp en ek het hom keer op keer probeer afweer, maar dan druk hy net my hand op die OTM.”
Neil het besluit om die voorval by die veiligheidsbeampte aan te meld, maar in die tyd wat hy na hom gestap het, het hy ’n SMS op sy slimfoon ontvang om te bevestig dat byna R12 000 uit sy bankrekening onttrek is.
Nog voordat hy hierop kon reageer, het die verdagtes uit die OTM-saal verdwyn en die veiligheidsbeampte het alarm gemaak.
Neil het ’n klagte van diefstal by die Paarl-polisie aangemeld en is Saterdag terug na FNB om ’n volle verklaring oor die gebeure aan die bank af te lê. Hy het gesê soortgelyke klagtes is terselfdertyd by FNB aangemeld deur mense wat op soortgelyke wyse deur OTM-swendelaars besteel is.

