Die Babylonstorenspan berei hulself hier voor vir Erfenisdag met ’n lekker boerewors braai.Foto: Babylonstoren


Stel jou dit voor: ’n reuse-os wat die gewig van die hele Springbok-skrum oortref. Voeg byna drie van die Springbok-slot Eben Etzebeth by, en eers dán kom jy by dié bees se grootte.

Hierdie bielie van ’n Chianina-os van Babylonstoren-plaas buite Franschhoek is vroeër vandeesmaand geslag en van sy vleis is na raming die lengte van 16 rugbyvelde, oftewel 1.6 km, se boerewors gemaak.

Die agtjarige dier het lewend die skaal op 1 257 kg getrek – ’n hele 318 kg swaarder as die Springbok-skrum wat die Skotte vanjaar in Frankryk in hul eerste Wêreldbekerwedstryd gerol het.

Van die afgeslagte os is sowat 830 kg se boerewors gemaak. Die warm karkas het 765 kg geweeg. Die koue gewig was 742 kg, wat beteken dat die os ’n uitslagprestasie van 60.86% opgelewer het.

Die boerewors gaan nou vir Erfenisdag op 24 September in Babylonstoren se tuin gebraai word, waar besoekers aan dié sappige wors gaan kan smul. Dit sal ook deel van die plaas- en aanlynwinkel se aanbod vorm.

Volgens Jaco Koegelenberg, Babylonstoren se slagter, het dit die inspanning van vier sterk helpers geverg om die bees se agterkwart vir die verwerking op die slaghuisblok te lig.

“Ons sny gewoonlik ’n karkas in verskillende vleissnitte wat geklassifiseer word. Die gewildste is snitte soos T-been, beeshaas en kruisskyf. Die minder gewilde snitte word gemaal. Dit het my hart gebreek om ’n snit soos riboog deur die maler te stuur. Maar die wens was om vir Braaidag die erfenistrots van boerewors te vier, en dit het darem so bietjie troos gebring. Volgens ons navorsing is dit ook die meeste boerewors wat nog van ’n enkele bees in Suid-Afrika gemaak is.”

Die boerewors bestaan uit ’n gebalanseerde kombinasie van 600 kg Chianina-beesvleis en 150 kg varkvleis, 26 liter Worcestorsous en 30 kg speserye – waarvan koljander, kruienaeltjies en neutmuskaat die oorheersende speserye is.

Chianinas kom oorspronklik van die Chiana-vallei in Italië – vandaar die naam. Dis ’n eeue oue ras wat al uit die Romeinse Ryk se dae aankom. Hierdie bees met sy lang bene en baie spiere is beide die hoogste en swaarste beesras en oorspronklik as trekdier geteel. ’n Fris bul druk die skaal sommer maklik tot tussen 1100 en 1200 kg, terwyl ’n koei gemiddeld 800 tot 900 kg weeg. Kalfies word vaal van kleur gebore maar verkleur mettertyd en ná ’n paar maande het hulle die kenmerkende kort, wit haarbedekking.

In hedendaagse Italië – veral in landelike Toskane – is Chianina bekend as ’n gesogte vleisras. Goed gedefinieerde spiere verskaf uitstekende maer vleis met marmering. Die biefstuk is ideaal vir die befaamde bistecca alla fiorentina. In Suid-Afrika is Chianina-stoetboere raar. Die skaarsheid maak dié uitsonderlike ras se vleis net nog meer gesog.

Van die Chianina droogverouder Jaco en sy span op Babylonstoren kruisskyf, lendestuk, T-been, beeshaas, picanha en riboog vir tussen 30 en 60 dae in ’n kamer waarvan die temperatuur ’n konstante 6°C bly en die muur met stene van pienk Himalajasout uitgevoer is.

You need to be Logged In to leave a comment.