Die internasionaal erkende orreliste dr. Mario Nell en Winand Grundling lewer Sondag 9 Februarie van 17:00 af ’n orreluitvoering in die NGK Wellington-Noord.

Albei orreliste het geen bekendstelling nodig nie. Hulle was die wenners van al die gesogte musiekkompetisies in Suid-Afrika, soos die Absa- Nasionale Jeugmusiekkompetisie, die ATKV-Muziq-kompetisie, die Mabel Quick-musiekbeurskompetisie asook Unisa se oorsese musiekbeurskompetisie.

Nell word erken as een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande uitvoerende kunstenaars en onderwysers en is ’n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy het aan die US sowel as die Universiteit van Port-Elizabeth gestudeer voordat hy ’n MMus aan die Universiteit van Kaapstad asook ’n PhD aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Hy het ook twee voordraers­lisensiate van Unisa verwerf en die Unisa- oorsese musiekbeurskompetisie gewen. Nell het van 1999 tot 2001 aan die Staatliche Hochschule für Musik in Freiburg, Duitsland en in 2006-’07 aan die Zürich Universiteit vir die Kunste gestudeer, waar sy hooffokus op historiese uitvoeringspraktyk was. Hy het in sy studies in die buiteland pryse in verskeie internasionale kompetisies ontvang, waaronder ’n eerste prys in die Calgary- internasionale orrelkompetisie met optredes in Duitsland en Hong Kong. Sedert 1999 het hy konsertoptredes in Duitsland, Switzerland, Frankryk, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Italië, Engeland en Suid-Korea gehad. Hy het van 2010 tot 2014 jaarliks die Universiteit Stellenbosch se rektorsprys as uitstaande dosent ontvang en word gereeld genooi om meestersklasse aan te bied, as beoordelaar op te tree en eksaminator vir Unisa musiekeksamens te wees.

Grundling het sy BMus-graad aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth verwerf. Hy het sy orrelstudies in 2002 onder die leiding van Colin Campbell begin, en sedertdien orreluitvoerings op nasionale en internasionale vlak gelewer. Grundling is in 2006 gekies as een van 17 orreliste wêreldwyd wat aan die Kanadese internasionale orrelskool in Calgary, waar hy ook meesterklasse ontvang het, deel te neem.

Hy het sy ATCL Trinity Recital (lisensiaat)-eksamen asook sy Unisa-voordraerslisensiaat met onderskeiding geslaag. In 2012 het hy sy BMus Hons-graad (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch onder die leiding van Nell voltooi.

Grundling het ook in 2012 meesterklasse by prof. Yin Kim (Universiteit van Seoel) ontvang, asook by prof. Ton Koopman, Jean-Claude Zhender, Louis Bolliviard en Peter Planyavski aan die internasionale Haarlem-orrelskool in Nederland, sowel as prof. David Higgs (Eastman School of Music, Rochester, VSA). Hy het in 2015 weer die Nederlandse Orrelskool bygewoon en in die 2012- Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) twee Kanna-toekennings vir sy produksie 14 Stasies van die Kruis vir die beste klassieke musiekproduksie asook beste opkomende kunstenaar ontvang.

Grundling is die orrelis van die NG kerk Stellenbosch-Welgelegen en die begeleier van verskeie kore en Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Sy debuutalbum, Toccata!, is in 2009 vrygestel en in 2012 het 14 Stations of the Cross gevolg. Hy het in 2014 ook sy nuutste CD, The Seven Days of Creation, vrygestel.

Hy het ook die Kanna-prys vir die beste klassieke musiekproduksie met die produksie Bach-Vandag in 2015 ontvang. Hy gee voltyds musiek by die Hoërskool Parel-Vallei in Somerset-Wes.

Die program sal die ene vuurwerk wees. Hulle speel werke van Pachelbel, Pierne, Bach, Boëllmann se eie verwerkings en die opwindende duet van Langlais.

Toegang is gratis, maar ’n kollekte sal opgeneem word om uitgawes te dek.

You need to be Logged In to leave a comment.