Orleanspark, eens ’n ontvlugtingsoord vir talle Paarliete, is nie meer ’n heerlike uitspanplek soos in die verlede nie.Foto: Lise Beyers


Orleanspark in Paarl-Oos, wat bekend is vir sy groot bome wat heerlike lafenis teen die somerhitte, braaigeriewe en ’n waterpark bied, word dikwels deur vandale verrinneweer.

Paarl Post het onlangs klagtes ontvang oor die toiletgeriewe by dié gewilde ontspanningsoord asook die krane wat buite werking is.

By navraag aan die Drakenstein-munisipaliteit het Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, gesê die toilette in die park word tans deur die Drakenstein-munisipaliteit se bou-afdeling herstel.

“Vandalisering, vermoedelik deur huidige inwoners, maak dit baie moeilik om die toilette en krane gereeld bloot te vervang. Infrastruktuur word eenvoudig afgebreek of uit die grond geruk. Die toilette sal vandag herstel word, en twee dae later is dit dalk weer geplunder,” sê Esau.

Hy sê ook voorraad en toerusting word tans aangekoop, maar dit is ’n voortdurende probleem by die park.

“Iemand het ook by die waterspeelpark ingebreek en ons is nog besig met ’n versekeringseis. Die waterspeelpark sal herstel word sodra die eis afgehandel is.”

Die klaer meen Orleanspark kan ’n heerlike ontspannings­terrein wees, mits behoor­lik na die park omgesien word, en dit is die ideale plek om mense weg te hou van die Bergrivier deur hulle eerder na die park te lok.

Volgens Esau sal opknap­ping van die park eers kan plaasvind nadat die huidige tydelike inwoners alternatiewe behuising gekry het. Dié inwoners is jare gelede noodbehuising in Orleanspark gegee. Esau het gesê die meeste van dié inwoners by die park het wel na alternatiewe behuising, wat ingevolge ’n hofbevel aan hulle gebied is, verhuis.

Gerugte het verlede week die ronde gedoen oor nege Kaapse kobra-slange wat in Orleanspark in Paarl-Oos gevind is, maar volgens die inwoners in die park is dit ’n wolhaarstorie.

Esau het ook gesê geen beves­tiging van enige perso­neellid kon oor die bewerings van slange gegee word nie.

“Die inskrywing is op Facebook geplaas, so, wanneer is die slange gesien en hoe­kom word tot tienuur die aand gewag om die inskry­wing te plaas? Hoekom is dit dan nie dadelik by die oord-personeel aangemeld nie?” het Esau gevra.

You need to be Logged In to leave a comment.