Die Orleanspark-oord Splash Park is weer oop.Foto: Noël Teba


Valleiers kan hierdie somer uitsien na lafenis teen Paarl se versengende hitte ná die heropening van die Orleanspark- Splash Park in Paarl-Oos.

Die Splash Park by die Orleanspark-oord in die Paarl is op Dinsdag 3 Desember heropen tot groot vreugde van die kinders wat die geleentheid bygewoon het – en net betyds vir die warm Desember-skoolvakansie.

Die Splash Park is oorspronklik in Oktober 2017 geopen.

Dit moes later weens onvoldoende veiligheid van die stelsel gesluit word.

Die munisipaliteit het vir die 2024-’25-boekjaar ’n begroting van R2,5 miljoen vir die opgradering van ontspanningsgeriewe in die vallei bewillig, waarvan 85% reeds aan projekte toegewys is.

Die munisipaliteit beplan ook ’n uitgebreide opknapping van die Orleanspark-oord.

Dit sluit in die omheining van die park, opknapping van die pad, ablusiegeriewe, braaiplekke, skaduplekke vir braaiers en speelparke.

Tafels en stoele wat van beton gemaak is, sal geïnstalleer word en die ou braaigeriewe sal omgeskep word in asblik- of herwinningsbakke.

Die Orleanspark-oord is geleë op die hoek van Meaker- en Van der Stelstraat in Paarl-Oos, en word aan die noordekant deur Bo-Dalstraat begrens.

Die oord bied braaigeriewe, dagbesoeker- en tentkampeerplekke, ’n spatswembad en speelparke.

Die fasiliteit is daagliks oop tussen 09:00 en 18:00.

Toegang kos R30 per voertuig, R20 per volwassene en R10 per kind.

You need to be Logged In to leave a comment.