Vir die afgelope paar jaar dat inwoners in Orleanspark in tente woon, was die winter of bome wat omwaai of besittings wat natreën elke jaar ’n groot uitdaging.Argieffoto


Met verlede week se stormsterk wind wat verwoesting regdeur die dorp gesaai het, is Orleanspark in Paarl-Oos deur die Drakenstein-munisipaliteit in samewerking met die Kaapse Wynland Distriks-munisipaliteit onveilig verklaar.

Volgens ’n persverklaring van die Drakenstein-munisipaliteit is Orleanspark onveilig verklaar vir die mense wat daar woon nadat vyf bome omgewaai het en twee strukture beskadig is.

“Hoewel geen beserings wat verband hou met die weerstoestande by die munisipaliteit aangemeld is nie, is die geaffekteerde gebiede ontruim in belang van die gesinne se veiligheid en as ’n voorsorgmaatreël,” het Jacqui Samson, uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die munisipaliteit, gesê.

Samson sê spanne vir rampbestuur en menslike nedersetting is verlede week na die 34 mense gestuur om hulle by te staan om na ’n veiliger gebiede te trek.

Die geaffekteerde vroue en kinders is in die Groenheuwel-biblioteeksaal gehuisves, maar volgens die munisipaliteit het die mans verkies om by Orleanspark aan te bly om na hul besittings om te sien.

Die gesinne is daarna na Paarl-Oos se Thusong-sentrum verskuif omdat Orleanspark onveilig vir bewoning verklaar is.

In 2016 is dié gesinne, wat ’n huis in Suider-Paarl onwettig beset het, ná ’n jare lange hofgeding deur ’n hofbevel uitgesit en in Orleanspark gehuisves. Dié reëling sou egter slegs tydelik wees tot wanneer die munisipaliteit, wat deur die hof beveel is om noodbehuising aan die inwoners te verskaf, se noodbehuising in Schoongezicht gereed was dat die inwoners daar kon gaan woon. Die inwoners het egter die noodbehuisingsopsie van die hand gewys en geweier om uit hul tente in Orleanspark te trek. “Dit moet duidelik gemaak word dat Orleanspark nooit bedoel was om die uitgesette gesinne se permanente woning te wees nie, maar tydelike verblyf ná hul uitsetting,” het Samson gesê.

Volgens Samson het die hoof van elke huishouding destyds ’n ooreenkoms met die munisipaliteit onderteken dat hul verblyf in Orleanspark tydelik is tot die voltooiing van Schoongezicht.

“Hoewel die munisipaliteit die Schoongezicht-terrein voorberei het – vir die “Blou Huis”– uitgesette gesinne sowel as ander groepe – is ’n deel van hierdie terrein binnegeval deur agterplaasbewoners wat in die omliggende gemeenskappe gewoon het. Munisipale amptenare moes ingryp en die vrede herstel voordat enige skuiwe kon plaasvind – in belang van die veiligheid van mense, hul eiendom en munisipale infrastruktuur.”

Volgens Samson is die inwoners gereeld oor die vordering ingelig en is hulle ook tot by die Schoongezicht-perseel geneem om hul nuwe tydelike behuising te besigtig.

“Die Schoongezicht-perseel was in September 2021 reeds vir bewoning gereed en die Drakenstein-munisipaliteit het ’n brief aan elke Blou Huis-huishouding uitgereik waarin hulle oor hul voorgestelde verhuisingsdatum (22 September 2021) ingelig is en hulle genooi is om die vereiste dokumente te kom voltooi. Hul skuif na die geïdentifiseerde noodbehuisingsperseel sou in pas wees met die hofbevel van 2016 en daaropvolgende ooreenkomste,” verduidelik Samson.

Die munisipaliteit bied aan elke huishouding by die Schoongezicht-perseel ’n struktuur van 6 m x 4 m op ’n ten volle gedienste erf, wat water- en ablusiegeriewe, elektrisiteit, teerpaaie, vullishouers en straatligte insluit.

“Toe die munisipaliteit die verteenwoordigers van die Blou Huis- uitgesette gesinne hul nuwe verblyf by Schoongezicht wys, was hulle aanvanklik baie beïndruk. Derde partye met spesifieke agendas het egter begin inmeng en hierdie uitgesette mense beïnvloed om in die oord te bly, wat hulle aangemoedig het om verskeie eise vir formele behuising te stel. Dit was ongelooflik onregverdig teenoor die uitgesettenes, wat geduldig gewag het vir ’n beter lewe in hul nuwe blyplek. Sulke voortgesette uitbuiting benadeel hulle net.”

Volgens Samson het die munisipaliteit op 17 Maart vanjaar weer ’n brief, wat met die hand afgelewer is, aan elke huishouding uitgereik waarin hulle ingelig is oor die verblyf wat vir hulle in Schoongezicht beskikbaar is en die verhuisingsreëlings wat vir hulle getref is. Hulle het drie dae gehad om te reageer, wat hulle versuim het om te doen. Regsaksie is dus ingestel.

“Hoewel sommige huishoudings van die aanbod gebruik gemaak het, blyk dit ander word steeds deur derde partye bedrieg en uitgebuit en daarom hou hulle aan met die minder-as-ideale lewensomstandighede in Orleanspark.

“Die regsproses om die oorblywende ‘Blou Huis’- uitgesettenes te hervestig, duur voort en die munisipaliteit wag op ’n hofdatum.”

You need to be Logged In to leave a comment.