Chris Truter (11) het in die maand van liefde wat deur rooi harte gekenmerk word, die grootste blyk van liefde ontvang – ’n hart wat sy lewe verander.
Die Truter-gesin het Sondag die goeie nuus ontvang dat hul seun ’n geskikte skenker gekry het.
“Ons was baie opgewonde en dankbaar toe ons die nuus kry,” het sy ma, Celeste Truter, gesê.
Dokters het Maandag ná 12:00 met die operasie begin en Chris is Dinsdag om 01:45 uit die teater.
Dinsdag 12:00 het Celeste gesê Chris word nog onder verdowing gehou, maar die dokters was tevrede met hoe die operasie verloop het.
“Ons is baie dankbaar vir die skenker en die familie van die skenker,” het Celeste gesê waar sy buite haar seun se hospitaalkamer waak.
Toe Celeste net 12 weke met hom en sy tweelingboetie, Basson, swanger was, het dokters agtergekom hy het ’n hartafwyking, wat hipoplastiese linkerhartsindroom genoem word.
Chris se ouers het eers die omvang van die diagnose besef toe dokters hulle vra om dit te oorweeg om die een baba te groet om sodoende die ander een se lewe te red.
Celeste en haar man, Hugo, wat die eerste keer ouers sou word, kon dit egter nie doen nie.
Die Truter-egpaar moes tóé al groot besluite oor Chris se lewe neem.
Chris en Basson is 30 Mei 2006 op 36 weke deur middel van ’n beplande keisersnit in die lewe gebring.
“Chris is dadelik na die neonatale waakeenheid geskuif waar sy ductus arteriosus met behulp van medikasie oopgemaak is sodat bloed deur sy hele liggaam kon vloei,” vertel Celeste.
Sy sê hy moes agt weke in die waakeenheid bly terwyl hulle verskeie menings van dokters oor die pad vorentoe gekry het.
Op agt weke moes die egpaar nog ’n belangrike besluit neem – om te opereer of nie?
Opeenvolgende operasies is kort ná die geboorte van ’n baba wat hipoplastiese linkerhartsindroom het nodig om die bloedvloei na die liggaam te verhoog om sodoende die swak funksionerende linkerhart te omseil.
Die eerste van dié operasies is die Norwood-prosedure. Dit is ’n hoërisikoprosedure wanneer dit by hartchirurgie kom.
Die doel van hierdie operasie is om die regterkantse hartkamer só om te skep dat dit as die hoofhartkamer dien om bloed na die res van die liggaam te pomp.
Celeste vertel hul lewe het ná die operasie om die woordjie “wag” gedraai het.
“Elke minuut het bestaan uit wag: wag om die dokter ná die operasie te sien; wag vir Chris om op sy eie te begin asemhaal; wag vir hom om wakker te word; wag vir hom om te eet; wag vir elke dreineringspyp om verwyder te word en uiteindelik wag om hom ná drie maande die eerste keer huis toe te kan vat.”
Chris moes verskillende operasies ondergaan om sy gesondheid te verbeter.
“Ons het altyd geweet dat hierdie operasies hom nie 100% gesond sal kan maak nie, maar ons het geweet dat die lewe ’n seën is en ons sal elke dag laat tel.”
Sy blouerige gelaatskleur was vir die gesin egter ’n konstante herinnering dat net die regterkant van sy hart funksioneer.
Hy het sy laaste operasie kort voor sy vyfde verjaardag ondergaan en sy gelaatskleur was die eerste keer in jare pienk.
Die gesin het in Junie 2017 op hul droomvakansie gegaan en deur Botswana gereis.
“Dit was baie spanningsvol. Chris se bloedsomloop het as gevolg van die hoër lugdruk in Botswana nie voldoende funksioneer nie en hy het 2 500 km van die huis af hartversaking gehad,” onthou Celeste.
Chris is geskeduleer vir ’n kateterisasieprosedure waar ’n stent in sy hart geplaas word.
Dokters het toe gesien dat hy ’n toestand ontwikkel het waar die hart se vermoë om bloed te pomp verminder het omdat die hartspier vergroot en verswak het.
Die gesin het in Augustus 2017 die skokkende nuus ontvang dat Chris ’n ander hart nodig het.
“Niks kon ons op die nuus voorberei nie. Chris se naam is op die orgaanoorplantingslys geplaas en van daar af het die ‘wag’ maar net weer van voor af begin.”
Die gesin het onlangs besluit om hul storie met die wêreld te deel in die hoop dat dit bewusmaking sal kweek van die belangrikheid van orgaanskenking. Sodoende sal hulle nie net hul seun se lewe kan red nie, maar ook ander mense help wat op die waglys is.
Chris het geweldige ondersteuning van sy medeleerders by die
Hugenote Laerskool in Wellington ontvang.
Boodskappe van oor die land het op sosiale media vir die Truter-gesin ingestroom.
“Ons is baie dankbaar vir al die ondersteuning van die Wellingtonners, Chris se skool asook almal wat ons ondersteun het.”
’n Foto waar Chris en Basson met mekaar speel, is Dinsdag op sosiale media gelaai met die woorde: “Ons is dankbaar vir die onbaatsugtige geskenk en ook hartseer vir die groot prys van die geskenk. Ons dank God vir sy getroue hand oor ons familie.”
. Mense wat ’n orgaanskenker word, kan die lewe van sewe mense red.
Besoek www.odf.org.za of skakel 0800 226 611 (tolvry) of stuur ’n e-pos na marilyn@odf.org.za vir nog inligting oor orgaanskenking.