Safmarine-saal
Die ingang na Community Youth and Family Services in Wellington. Foto: Community Youth & Family Services CYFS/ Facebook

Die GOOD-party en VF Plus in die Drakenstein het hul misnoeë teenoor die DA uitgespreek nadat dié party op die onlangse raadsvergadering teen die verhuring van die Safmarine-saal in Wellington aan Community Youth and Family Services (CYFS) gestem het.

Volgens die vergadering se sakelys het die munisipaliteit die openbaredeelname- proses in Oktober 2024 ten opsigte van die verhuring van die saal aan CYFS vir twee jaar asook ‘n 90-dae-periode van onmiddellike okkupasie om verdere vandalisering van die saal te voorkom, goedgekeur.

Die openbaredeelnameproses is gevolg en geen besware is aangeteken nie, waarna die verhuring van die saal aan CYFS in Desember 2024 goedgekeur is.

Volgens die sakelys is ‘n assessering van die gebou se toestand in 2019 gedoen en dit is bevind dat die gebou nie geskik is om gebruik te word nie. Die DM het toe oorweeg om die saal plat te stoot, maar is toe genader deur CYFS se stigter, Henry Jacobs, om die saal te huur, wat alle restourasiewerk uit sy eie sak gedoen het.

Volgens Jacobs het hy die DM in Desember 2024 genader om die saal te huur en het hy dit met sy eie geld reggeruk. Die saal beskik egter steeds nie oor elektrisiteit nie.

Vandag staan die gebou onder inwoners bekend as die basis van CYFS wat, volgens Jacobs, 46 programme aanbied en self gefinansier word. Dit sluit in, onder meer, dwelm-, bende-, vroeë kinderontwikkeling- en jeugwerksessies asook ondersteuningsgroepe vir mans en vroue.

Jacobs was onder meer ‘n voormalige polisiebeampte in Wellington en het in 2023 na die dorp teruggekeer ná ‘n paar jaar oorsee. Volgens hom het hy dadelik ingegryp toe hy die stand van die Safmarine-saal sien – ‘n saal wat hy in 1998 help bou het. Jacobs dien ook in Wellington se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

LEES OOK: Hope for ‘beacon-of-hope’ centre

Hy voer aan dat “politiekery” veroorsaak het dat CYFS se huurkontrak opgeskort is. Hy voer aan dat sommige DA-raadslede kantoorruimte in die saal wou gehad het, waarna hy dit nie goedgekeur het nie en dit die raadslede ontstel het.

Volgens hom is CYFS toe in Februarie vanjaar deur die DM ‘n uitsettingskennisgewing gegee, waarna dit, volgens hom, verbaal deur ‘n senior amptenaar teruggetrek is. Hy het toe weer ná die raadsvergadering gehoor dat die DA teen die hernuwing van die verhuring gestem het. Volgens hom het CYFS egter nog geen skrywe van die DM oor die huurooreenkoms ontvang nie en word die organisasie steeds in die saal bedryf.

Die GOOD-party in die Drakenstein het in ‘n verklaring gesê “die DA [het] probeer om hierdie besluit as ‘n bekommernis oor die veiligheid van die Safmarine-saal te vermom, maar dit is bloot politieke opportunisme”.

GOOD het op die raadsvergadering teen die aanbeveling gestem om die huurooreenkoms met CYFS te beëindig.

Volgens die VF Plus se verklaring “bestaan daar geen beleid dat wyksraadslede kantore in enige gemeenskapsentrum kan beset nie”.

Paarl Post het na die DM uitgereik, maar geen kommentaar is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article