’n Aantal opposisiepartye in die Drakenstein-munisipaliteit het in ’n brief aan die munisipale raad se Speaker gesê hulle het “alle respek en vertroue” in Conrad Poole, die uitvoerende burgemeester, verloor en eis nou dat hy deur ’n “dringende mosie” met volgende week se raadsvergadering uit sy amp verwyder moet word.
In die brief, wat Paarl Post te sien gehad het, sê die opposisieraadslede afdeling 58 van die Wet op Munisipale Strukture maak voorsiening vir ’n raad om sy uitvoerende burgemeester deur ’n mosie wat vooraf aan die Speaker gekommunikeer is, te verwyder.
“Ons as die ondertekende raadslede het alle respek, vertroue en hoop in die uitvoerende burgemeester se vermoë om hierdie raad te kan lei, verloor. Met hierdie mosie eis ons dat hy met onmiddellike effek uit sy amp verwyder word,” lui die brief.
Die brief is Woensdag (14 Februarie) aan die Speaker se kantoor uitgereik en deur die meeste opposisiepartye in die raad onderteken, insluitend die VF-Plus, GOOD, PA, PAC, Al Jama-Ah, ANC en EFF.
Slegs twee opposisiepartye, die ACDP en ICOSA, het nié die brief geteken nie.
André Fourie, ’n VF-Plus-raadslid, het aan Paarl Post gesê sy party is al sedert 2021 ontevrede met Poole se “bestuurstyl en diktatoriale houvas” op die munisipaliteit.
“Die reputasie van Drakenstein is op die spel en ons glo dit is in die beste belang van inwoners, belastingbetalers en sakelui dat die uitvoerende burgemeester verwyder word. Ons vertrou die mosie sal by die eerskomende raadsvergadering op 28 Februarie dien.”
Poole word tans ondersoek vir bewerings van wanadministrasie, wat in Augustus verlede jaar deur die GOOD-party onder die Speaker se aandag gebring is.
Poole word daarvan beskuldig dat hy ’n “betaal-vir-werk”-skema onder sy burgemeesterskomitee bestuur het.
’n Onafhanklike ondersoek deur ’n regsfirma, wat deur die Speaker aangestel is, het in Oktober verlede jaar prima facie-bewyse gelewer dat Poole wel sekere gedragskodes vir raadslede oortree het, en ’n onafhanklike tugkomitee sou deur die munisipale raad gestig word om die bevindings van dié ondersoek behoorlik na te gaan.


