Rekord getalle goudgeel Kaapse kobra’s word die afgelope maand in die Drakenstein gewaar, met Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control wat reeds om en by 60 kobra’s vanaf 1 November gevang het.
Eduanne Niemand, van Boland Snake Removals, het gese dat hy huidiglik ongeveer vyf kobra’s per dag vang.
Volgens hom het die somer-slangseisoen reeds in September afgeskop, maar vanaf Oktober is hy werklik besig gehou met oproepe van benoude inwoners.
Die rede vir dié verskynsel is die ongewone lang winter wat die slange langer sonder kos gelaat het en wat veroorsaak het dat hulle in hul duisende uit hul wegkruip-gate stroom opsoek na voedsel in warmer weer.
Nietemin, indien dit té warm word soos Bolanders die afgelope week of twee ervaar het, soek die kobra’s egter skuiling wat hul gewoonlik lei na die koelte van huise.
Volgens Niemand, wat dorpe soos die Paarl, Wellington, Franschhoek, Simondium, Riebeeck-Wes en -Kasteel, asook Malmesbury dek, kry hy meestal oproepe van inwoners wie se huise naby aan berge is, asook op plase.
Volgens hom is nog ’n gereelde kliënt ook perdeplase omdat hulle muise lok weens perdevoer.
’n Onlangse oproep is ontvang vanaf ’n benoude gesin op ’n plaas buite Wellington wat ’n “skuur” geluid in hul dak gehoor het. Met Niemand se aankoms op die plaas het hy vasgestel dat hulle nie net één Kaapse kobra het nie, maar twee wat reeds ’n paar dae lank skuiling in die huis se plafon geniet het.
Op ’n ander geleentheid het die Boland se geliefde slangvanger ’n “benoude tannie” van Myburghstraat in die Paarl gehelp toe sy ’n “geel slang” in haar kamer gewaar het.
“Na dat die hele vertrek waar sy die slang gevaar het omgedop het en nog verder gesoek het kon ek geen teken van die slang kry nie. Iets het egter vir my gesê om bo-op die trellydoor te kyk, en wragtig, daar sit hy,” het Niemand in ’n Facebook-plasing van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control geskryf.
Niemand vang reeds 37 jaar slange vanaf 12-jarige ouderdom en se dat hy met ’n gemiddeld van 999 slange per jaar te doen kry wat hy self vang en vrylaat.
Gewaar jy dalk ’n glibberige slang op jou werf? Hierdie is die stappe wat jy kan volg beveel Niemand aan:
- Neem ’n foto van die slang en stuur dit aan ’n slangvanger.
- Vra jou huismense om nie om die slang saam te drom nie.
- Hou ’n ogie op die slang terwyl jy op die slangvanger wag.
- Moenie aan die slang probeer raak of dit self probeer vang of verwyder nie.
- Maak seker jou erf is skoon en higiënies omdat vuil omstandighede muise en rotte lok, wat beteken slange sal binnekort hul verskyning maak.