Almal stem saam dat die onrusbarende toename in werkloosheid in dié pragtige land, tesame met die onvermoë van die Suid-Afrikaanse ekonomie om voldoende werksgeleenthede te skep, krisisafmetings begin aanneem.
Dit is egter ’n internasionale ekonomiese fenomeen dat ingenieurs, tegnici en veral entrepreneurs bekend staan as die “katalisators” van enige ekonomie.
Dit is hulle wat oor die insig, kennis en vaardighede beskik om nuwe potensiële sakegeleenthede te identifiseer en op kundige wyse te omvorm en omskep in groot besighede, sakepraktyke en fabrieke.
Daarom is dit van deurslaggewende belang dat daar in Suid-Afrika baie meer van hierdie “spesialiste” in die arbeidsmark gevestig sal word.
By die Hoërskool Labori in die Paarl is daar oor die afgelope 27 jaar die grondslag van honderde potensiële ingenieurs en tegnici gelê deurdat hulle, tesame met akademiese vakke soos wiskunde en fisiese wetenskap, ook vele spesialis-tegnologiese studieterreine, soos ingenieursgrafika en -ontwerp, rekenaarinligtingstegnologie en ook elektriese, meganiese of siviele tegnologie, kon bestudeer.
Juis vanweë die skool se uiters relevante tegniese kurrikulum, asook bestaande tegnologiese infrastruktuur, het dié groepie oudsakemanne die skool genader en aangedui dat hulle graag geld sou wou beskikbaar stel, mits dit spesifiek aangewend word vir die opleiding van entrepreneurs.
’n Sakeplan is geskryf en voorgelê aan die trust en die skool se aansoek was suksesvol.
’n Kundige op die terrein van entrepreneurskapopleiding, Edith Kennedy van die Business Advice Clinic, is daarna genader om ’n toepaslike kurrikulum te skrywe. Twaalf leerders is gekeur en daar is begin met opleiding.
In die kursus word onder meer gefokus op basiese oriëntering, suksesfaktore, eienskappe van suksesvolle entrepreneurs, hoe om ’n idee te omskep in ’n besigheid, produkontwerp, die ontwikkeling van ’n produk/diens, kosteberekening, beleggingsgeleenthede, bemarking, handelsmerke en die betreding van die mark.
Die droom is dat hierdie potensiële groep “sakemanne en -vroue”, nadat hulle die tweejaarkursus suksesvol voltooi het, oor die nodige kennis, insig, vaardighede en deursettingsvermoë sal beskik om hul eie besighede te begin.
Die volgende inname eerstejaarstudente sal aan die begin van 2017 geïdentifiseer word.
Ander suksesvolle entrepreneurs in die sakewêreld wat ook graag by Hoërskool Labori se Entrepreneurskapprogram betrokke wil raak, kan Chris Botha by 021 872 8293 of 082 525 2563 bel.